Lukas 21

21
Die arm weduwee se dank-offer
(Ook Mark 12:41-44)
1Jesus het gesien die ryk mense gooi hulle dank-offers in die dankoffer-kis in die tempel. 2Hy het ook gesien 'n arm weduwee gooi twee klein geldstukkies in die kis. 3Toe sê Jesus: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Hierdie arm weduwee het meer geld ingegooi as almal. 4Al hierdie ryk mense het baie geld om in te gooi en daarna het hulle nog baie geld. Hierdie vrou is baie arm, maar sy het alles ingegooi, sy het nie meer geld om kos te koop nie.”
Vyande sal die tempel afbreek
(Ook Matt 24:1-2; Mark 13:1-2)
5Party van die mense het gepraat oor hoe mooi die tempel is. Die bouers het die mure gebou met mooi klippe en hulle het dit mooi gemaak met gewyde presente. Toe sê Jesus: 6“Daar sal 'n tyd kom wanneer vyande al hierdie geboue sal afbreek. Daar sal nie een muur regop bly staan nie.”
Mense sal baie swaar kry
(Ook Matt 24:3-9; 10:17-22; 24:13; Mark 13:3-13)
7Die mense het toe vir Jesus gevra: “Wanneer sal die dinge gebeur waarvan U praat? Watter teken sal vir ons wys wanneer al hierdie dinge sal gebeur?”
8Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas dat niemand julle bedrieg nie. Baie mense sal my Naam gebruik en sê: ‘Dit is Ek! Ek is die Christus!’ Hulle sal ook sê: ‘Die regte tyd het nou gekom.’ Maar julle moet hulle nie glo nie. 9Julle moenie skrik wanneer julle hoor die mense maak oorlog of hulle is ongehoorsaam aan hulle regerings nie. Hierdie dinge moet eers gebeur, maar dit is dan nog nie dadelik die einde van alles nie.”
10Toe het Jesus vir die mense gesê: “Die een volk sal teen die ander volk oorlog maak, die mense van een land sal teen die mense van 'n ander land oorlog maak. 11Daar sal groot aardbewings wees, op baie plekke sal daar hongersnood wees. Baie mense sal siek word en sterf. Daar sal vreeslike dinge gebeur, en daar sal tekens in die lug wees, tekens wat 'n mens bangmaak. 12Maar voor al hierdie dinge gebeur, sal die mense julle vang en hof toe vat in die sinagoges, en hulle sal julle in die tronk gooi. Hulle sal julle ook hof toe vat voor konings en goewerneurs omdat julle aan My behoort. 13Dan kan julle vir hulle van My vertel. 14Julle moet besluit om nie voor die tyd gereed te maak vir wat julle sal sê wanneer julle in die hof kom nie, 15want Ek sal vir julle sê wat julle moet sê. Julle sal soos wyse mense praat en julle vyande sal nie weet wat om te antwoord nie, hulle sal nie kan sê julle praat verkeerd nie. 16Ook julle ouers, julle broers, julle familie en julle vriende sal vir julle hof toe vat. Hulle sal party van julle ook doodmaak. 17Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. 18Maar julle sal nie verlore gaan nie, nie een haar van julle kop sal verlore gaan nie. 19As julle aanhou glo, dan sal julle die ewige lewe kry.”
Vyande sal Jerusalem verwoes en die gelowiges verdruk
(Ook Matt 24:15-16,19,21; Mark 13:14,17,19)
20“Wanneer julle sien die soldate van die vyande is rondom Jerusalem, dan moet julle weet dit is nog net 'n kort tydjie, dan sal die vyande Jerusalem verwoes. 21Wanneer dít gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. En die mense in Jerusalem moet weghardloop. En die mense buite die stad moenie na Jerusalem kom nie. 22Want dit sal 'n tyd wees wanneer God die mense van Jerusalem sal straf, sodat alles kan gebeur wat in die Ou Testament geskryf is. 23Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat babas verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Want die mense in die land Judea sal swaarkry, God sal dan begin om hulle swaar te straf. 24Die vyande sal party mense van Judea doodmaak. En hulle sal ander mense vang en wegvat na al die ander volke van die wêreld. Ander mense sal in Jerusalem kom woon en hulle sal die stad ontwy. En al hierdie dinge sal aanhou totdat die tyd kom wanneer die Here die volke sal straf.”
Die Seun van die mens sal weer kom
(Ook Matt 24:29-31; Mark 13:24-27)
25“Daar sal wonderlike dinge gebeur met die son en die maan en die sterre. Die mense op die aarde sal baie bang word, want alles sal deurmekaar wees. Die branders van die see sal so wild word dat die mense nie sal weet wat gebeur nie. 26Mense sal sterf omdat hulle bang is, omdat hulle sal weet dat vreeslike dinge in die wêreld sal gebeur. Ja, God sal die hemel skud en alles wat daarin is. 27Dan sal almal vir My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom, en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees. 28Wanneer hierdie dinge begin gebeur, dan moet julle ophou om moedeloos te wees, want dan weet julle dat God julle gou sal kom vrymaak.”
Die gelykenis van die vyeboom
(Ook Matt 24:32-35; Mark 13:28-31)
29Jesus het vir sy dissipels 'n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Julle moet kyk na die vyeboom en al die ander bome. 30Wanneer die blare begin groei, dan weet julle en kan julle self sien die somer is naby. 31So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die tyd is naby wanneer God Koning sal wees. 32Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur. 33Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”
Niemand sal weet wanneer God Koning sal word nie
34“Julle moet oppas, julle moenie julle geld mors en dronk word en bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, want dan sal julle vir God vergeet. En die dag wanneer God Koning sal word, sal dan vir julle te skielik kom. 35Dit sal wees soos 'n vangstrik wat skielik 'n voël vang. Ja, dit sal skielik gebeur met al die mense wat op die aarde woon. 36Julle moet altyd gereed wees. Julle moet bid dat julle krag sal hê om weg te vlug van al hierdie dinge wat gou sal gebeur. Julle moet bid dat julle gereed sal wees wanneer die Seun van die mens julle sal oordeel.”
37Jesus het in die dag vir die mense in die tempel geleer, maar wanneer dit aand geword het, het Hy uitgegaan na die Olyf-berg en Hy het die hele nag daar gebly. 38En vroeg die volgende oggend het al die mense weer na Hom kom luister by die tempel.

Tans Gekies:

Lukas 21: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan