Matteus 16
16
Die Fariseërs en die Sadduseërs wil 'n wonderteken sien
(Ook Matt 12:38-39; Mark 8:11-13; Luk 11:16; 12:54-56)
1 Fariseërs en Sadduseërs het na Jesus toe gekom om Hom te toets en te kyk wat Hy doen. Daarom het hulle Hom gevra om vir hulle 'n wonderteken te wys wat van God kom. 2Maar Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer die lug rooi is in die aand, dan sê julle dit sal mooiweer wees. 3Maar wanneer die lug vroeg in die oggend rooi en bewolk is, dan sê julle daar kom 'n storm. Julle kan na die lug kyk en die weer voorspel, maar julle verstaan nie die tekens wat wys wat nou gebeur nie. 4Die slegte en sondige mense wat nou lewe, wil 'n wonderteken hê en 'n bewys sien. God sal nie 'n wonderteken vir hulle wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, en dit is die teken van Jona.”
En Jesus het hulle daar gelos en weggegaan.
Jesus waarsku die dissipels teen die Fariseërs en die Sadduseërs
(Ook Mark 8:14-21)
5Die dissipels van Jesus het na die ander kant van die see gegaan en hulle het vergeet om brood saam te neem. 6Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van die Sadduseërs.”
7Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood saamgeneem het nie. 8Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle so met mekaar oor die brood wat julle nie het nie? Hoekom is julle geloof so min? 9Verstaan julle nog nie? Onthou julle die vyf brode wat genoeg was vir die 5 000 mense, en hoeveel mandjies vol julle opgetel het? 10En onthou julle die sewe brode vir die 4 000 mense, en hoeveel groot mandjies vol julle opgetel het? 11Hoekom verstaan julle nie? Ek het nie oor brood met julle gepraat nie, nee, julle moet oppas vir die suurdeeg van die Sadduseërs en die Fariseërs.”
12Toe het hulle verstaan dat Jesus nie gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie, maar dat Hy gesê het hulle moet oppas vir die dinge wat die Fariseërs en Sadduseërs vir die mense leer.
Wie is Jesus?
(Ook Mark 8:27-30; Luk 9:18-21; Joh 6:67-69)
13Jesus het na plekke naby die stad Sesarea-Filippi gegaan. Hy vra toe vir sy dissipels: “Wat sê die mense, wie is Ek, die Seun van die mens?”
14Die dissipels sê toe: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party sê U is Elia, en party sê U is Jeremia of een van die profete.”
15Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê julle? Wie sê julle is Ek?”
16Simon Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die God wat lewe.”
17Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Simon seun van Jona, God sal jou seën. Dit is nie 'n mens wat vir jou gehelp het om dit te weet nie, maar my Vader wat in die hemel is. 18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, die rots, en Ek sal my kerk op hierdie rots bou. Vyande sal my kerk nie oorwin nie, die dood sal dit ook nie doen nie. 19Ek gee vir jou die sleutels van my huis. Jy sal oopsluit en jy sal toesluit. Jy sal vir mense leer dat God Koning is oor hulle. Almal wat nie by jou die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.”
20Toe het Jesus vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.
Jesus sê Hy sal sterf en weer lewe
(Ook Mark 8:31-33; Luk 9:22)
21Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe. 22Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom begin raas. Petrus het gesê: “Here, ek bid dat God dit sal keer, dit sal nooit met U gebeur nie!”
23Jesus het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy wil hê Ek moet verkeerd doen. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.”
Hoe 'n mens vir Jesus moet volg
(Ook Mark 8:34 – 9:1; Luk 9:23-27; Joh 12:25)
24Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan 'n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg. 25Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red. 26As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal 'n mens betaal vir sy lewe? 27Want Ek, die Seun van die mens, sal gou saam met die engele kom om Koning te wees soos my Vader Koning is. Dan sal Ek elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. 28Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat Ek, die Seun van die mens, kom om Koning te wees. Hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”
Tans Gekies:
Matteus 16: ABA
Kleurmerk
Deel
Kopieer
Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.