Markus 15:6-15

Markus 15:6-15 ABA

Pilatus het gewoonlik op die Paasfees een gevangene uit die tronk laat kom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees. Een van die mense in die tronk was Barabbas. Hy was daar saam met ander mense. Hulle het mense opstandig gemaak teen die regering en hulle het 'n man vermoor. 'n Groot klomp mense het na Pilatus toe gegaan en hulle het vir hom gevra om weer iemand uit die tronk te laat kom, soos hy altyd gedoen het. Pilatus het vir hulle gevra: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode uit die tronk laat kom?” Pilatus het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was. Die priesterleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat kom, nie vir Jesus nie. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met die man wat julle die koning van die Jode noem?” Die mense het geskree: “ Kruisig hom!” Pilatus het aangehou om vir hulle te vra: “Wat het hy verkeerd gedoen?” Maar die mense het baie hard geskree: “Kruisig hom!” Pilatus wou die klomp mense tevrede maak en daarom het hy vir Barabbas uit die tronk laat kom. Hy het vir Jesus met 'n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig.