MARKUS 15:6-15
MARKUS 15:6-15 Bybel vir almal (ABA)
Pilatus het gewoonlik op die Paasfees een gevangene uit die tronk laat kom. Die mense het gekies watter gevangene dit moet wees. Een van die mense in die tronk was Barabbas. Hy was daar saam met ander mense. Hulle het mense opstandig gemaak teen die regering en hulle het 'n man vermoor. 'n Groot klomp mense het na Pilatus toe gegaan en hulle het vir hom gevra om weer iemand uit die tronk te laat kom, soos hy altyd gedoen het. Pilatus het vir hulle gevra: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode uit die tronk laat kom?” Pilatus het geweet die priesterleiers het Jesus na hom toe gebring omdat hulle jaloers was. Die priesterleiers het aangehou om vir die mense te sê hulle moet vra dat Pilatus vir Barabbas uit die tronk moet laat kom, nie vir Jesus nie. Toe vra Pilatus weer vir hulle: “Wat wil julle hê moet ek doen met die man wat julle die koning van die Jode noem?” Die mense het geskree: “ Kruisig hom!” Pilatus het aangehou om vir hulle te vra: “Wat het hy verkeerd gedoen?” Maar die mense het baie hard geskree: “Kruisig hom!” Pilatus wou die klomp mense tevrede maak en daarom het hy vir Barabbas uit die tronk laat kom. Hy het vir Jesus met 'n sweep laat slaan en hy het Hom vir die soldate gegee sodat hulle Hom kon kruisig.
MARKUS 15:6-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op die fees was hy gewoond om een gevangene, die een wat hulle gevra het, vir hulle los te laat. En daar was 'n sekere Barábbas wat met mede-oproermakers in die gevangenis was; en hulle het in die opstand 'n moord begaan. En die skare het geskreeu en begin vra dat hy vir hulle sou doen soos altyd. Toe antwoord Pilatus en sê vir hulle: Wil julle hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat? Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit nydigheid oorgelewer het. Maar die owerpriesters het die skare aangehits dat hy liewer Barábbas vir hulle moes loslaat. Toe antwoord Pilatus weer en sê vir hulle: Wat wil julle dan hê moet ek doen met Hom wat julle Koning van die Jode noem? En hulle skreeu weer: Kruisig Hom! Maar Pilatus sê vir hulle: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Hulle skreeu toe nog harder: Kruisig Hom! En omdat Pilatus aan die skare hulle sin wou gee, het hy Barábbas vir hulle losgelaat; en nadat hy Jesus laat gésel het, het hy Hom oorgelewer om gekruisig te word.
MARKUS 15:6-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Elke paasfees het Pilatus vir die mense een gevangene, die een wat hulle gevra het, losgelaat. Daar was 'n man met die naam Barabbas in die tronk saam met ander opstandelinge. Hulle het tydens die opstand moord gepleeg. Daar het toe juis 'n klomp mense gekom en Pilatus gevra om vir hulle te doen wat hulle van hom gewoond was. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?” Hy het geweet dat die priesterhoofde Hom uit afguns uitgelewer het. Hulle het die mense egter opgesteek om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moet loslaat. Pilatus het weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek met hom maak wat julle die koning van die Jode noem?” “Kruisig hom!” skreeu hulle. “Waarom? Wat se kwaad het hy gedoen?” vra Pilatus hulle. Maar hulle skreeu nog harder: “Kruisig hom!” Omdat Pilatus die mense hulle sin wou gee, het hy Barabbas toe vir hulle losgelaat en Jesus laat gesel en Hom oorgelewer om gekruisig te word.
MARKUS 15:6-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Tydens elke fees het hy vir hulle, op hulle versoek, een gevangene vrygelaat. Daar was 'n man met die naam Barabbas, wat gevange geneem is saam met die rebelle wat moord gepleeg het tydens 'n opstand. Die skare het na •Pilatus gegaan en gereedgemaak om te vra dat hy soos gewoonlik sal optree. Pilatus vra hulle toe: “Wil julle hê dat ek vir julle die koning van die Jode vrylaat?” Hy het immers geweet dat die leierpriesters Hom uit afguns oorgelewer het. Die leierpriesters het die skare egter opgestook dat hy eerder Barabbas vir hulle moet vrylaat. Pilatus het hierop gereageer en weer vir hulle gevra: “Wat wil julle dan hê moet ek doen met hom wat julle die koning van die Jode noem?” Hulle het opnuut geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus vra toe vir hulle: “Watter kwaad het hy dan gedoen?” Maar hulle het nog harder geskreeu: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede stel, en het Barabbas vir hulle vrygelaat. Maar Jesus het hy laat gesel en oorgelewer om gekruisig te word.
MARKUS 15:6-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En op daardie fees het Hy vir hulle een gevangene vrygelaat, wie hulle ook al wou. En daar was een met die naam van Barábbas, wat geboei gelê het saam met die wat saam met hom opstand gedoen het, wat in die opstand moord gepleeg het. En die skare wat hardop geroep het, het begin begeer dat hy moet doen soos hy altyd aan hulle gedoen het. Maar Pilatus het hulle geantwoord en gesê: Wil julle dat ek die Koning van die Jode vir julle vrylaat? Want hy het geweet dat die owerpriesters Hom uit afguns verlos het. Maar die owerpriesters het die volk aangespoor om liewer Barábbas vir hulle vry te laat. En Pilatus antwoord en sê weer vir hulle: Wat wil julle dan moet ek doen aan hom wat julle die Koning van die Jode noem? En hulle het weer uitgeroep: Kruisig Hom. Toe sê Pilatus vir hulle: Waarom, watter kwaad het hy gedoen? En hulle het des te meer uitgeroep: Kruisig Hom. Daarom het Pilatus, wat gewillig was om die volk tevrede te stel, Barábbas vir hulle vrygelaat en Jesus, nadat Hy Hom gegésel het, oorgegee om gekruisig te word.
MARKUS 15:6-15 Die Boodskap (DB)
Gedurende die paasfees het die Romeine gewoonlik een persoon vrygelaat wat in die tronk was. Die mense kon kies wie. Juis toe was daar ’n bende rebelle in die tronk. Een van hulle was ’n man met die naam Barabbas. Die bende het amok gemaak, die mense opgestook en selfs moord gepleeg. Die mense kom vra toe vir Pilatus wanneer hy dan soos gewoonlik ’n gevangene gaan vrylaat. “Hoe lyk dit, kan ek maar die koning van die Jode loslaat?” vra Pilatus toe. Hy was nie dom nie - hy het geweet dat die leiers van die priesters net jaloers was op Jesus en net daarom het hulle Hom kom aankla. Die priesters het niks gehou van Pilatus se voorstel nie en het die klomp mense buitekant opgesweep om te vra dat Barabbas eerder losgelaat moet word. Weer vra Pilatus hulle: “Wat moet ek dan doen met die een wat julle die koning van die Jode noem?” “Kruisig hom!” gil hulle. “Maar hoekom? Wat het hy dan verkeerd gedoen?” vra Pilatus. Die klomp mense het net harder geskree: “Kruisig hom!” Pilatus wou die skare tevrede hou. Daarom het hy maar vir Barabbas laat gaan. Vir Jesus het hy laat martel deur Hom met ’n sweep te laat slaan en toe gesê dat hulle Hom moet kruisig.
MARKUS 15:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die goewerneur was gewoond om elke jaar tydens Paasfees een gevangene vir die volk vry te laat – dié een waarvoor hulle gevra het. Een van die destydse gevangenes was Barabbas. Hy was saam met ander veroordeel weens ’n moord wat hulle tydens ’n opstand gepleeg het. Die skare het oproerig geword en van Pilatus begin eis om soos gewoonlik ’n gevangene vry te laat. “Moet ek vir julle die Koning van die Jode vrylaat?” vra hy hulle toe – hy het immers besef dat die priesterhoofde Jesus uit naywer laat arresteer het. In hierdie stadium het die priesterhoofde die skare egter aangehits om te vra dat hy liewer Barabbas vir hulle moes vrylaat. Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle die Koning van die Jode noem?” Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!” “Hoekom dan?” het Pilatus by hulle aangedring. “Watter misdaad het hy gepleeg?” Maar die skare het al hoe harder geskree: “Kruisig hom!” Omdat Pilatus die skare graag hulle sin wou gee, het hy toe vir Barabbas vrygelaat, maar vir Jesus het hy aan die soldate oorgegee om Hom met gésels te slaan en daarna te kruisig.