Numeri 8

8
Die sewe lampe
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Jy moet met Aäron praat en vir hom sê wanneer hy die lampe op die lampstaander sit, dan moet die sewe lampe vorentoe skyn.”
3Aäron het dit gedoen. Hy het die sewe lampe teen die voorkant van die lampstaander gesit soos die Here vir Moses gesê het. 4Hulle het die lampstaander gemaak van goud wat hulle met 'n hamer geslaan het. Die steel en die blomknoppe van die lampe was van goud. Moses het die lampstaander laat maak soos die Here vir hom gewys het.
Die Leviete
5Die Here het vir Moses gesê: 6“Jy moet die Leviete wat tussen die Israeliete is, wegneem en jy moet hulle reinig. 7Dit is hoe jy hulle moet reinig: Jy moet reinigingswater oor hulle spat, en hulle moet al die hare op hulle hele liggaam afskeer en hulle klere was en hulleself reinig. 8Dan moet hulle 'n jong bul neem saam met die koring-offer van die beste meel wat hulle met olyf-olie meng, en jy moet nog 'n jong bul neem om 'n sonde-offer te wees. 9Jy moet die Leviete laat nader kom voor die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, en jy moet die hele volksvergadering van die Israeliete laat bymekaarkom. 10Wanneer jy die Leviete laat nader kom voor My, dan moet die Israeliete hulle hande op die Leviete sit, 11en Aäron moet die Leviete heen en weer laat beweeg voor My om 'n beweeg-offer te wees, sodat hulle die werk vir My kan doen. 12Die Leviete moet dan hulle hande sit op die koppe van die bulle, en Aäron moet die bulle vir My offer, die een bul is 'n sonde-offer en die ander bul is 'n brand-offer. Hierdie offers is om versoening te doen vir die Leviete. 13Jy moet vir die Leviete sê hulle moet vir Aäron en sy seuns werk, en jy moet hulle heen en weer laat beweeg om 'n beweeg-offer vir My te wees. 14So moet jy die Leviete wegneem van die ander Israeliete, die Leviete moet aan My behoort. 15Wanneer jy die Leviete gereinig het en hulle heen en weer laat beweeg het om 'n beweeg-offer te wees, dan mag hulle gaan werk in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, 16want die Leviete behoort aan My, die Israeliete het hulle vir My gegee in die plek van al die eerste seuns van die Israeliete. Ek het die Leviete vir My geneem. 17Al die eerste seuns en eerste kalwers en lammers en vulletjies van die Israeliete is Myne. Ek het hulle aan My gewy toe Ek die eerste seuns en die eerste kalwers en lammers en vulletjies van die Egiptenaars laat sterf het. 18Maar Ek het die Leviete geneem in die plek van al die eerste seuns van die Israeliete, 19en Ek het die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het hulle vir Aäron en sy seuns gegee om te werk in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn. Ek het die Leviete gegee om versoening te doen vir die Israeliete, want as die Israeliete self te naby aan die tempel-tent kom, dan sal hulle sterf.”
20Moses en Aäron en die hele volksvergadering van die Israeliete het toe met die Leviete alles gedoen wat die Here vir Moses gesê het. 21Die Leviete het hulleself gereinig en hulle klere gewas, en Aäron het hulle heen en weer laat beweeg om 'n beweeg-offer vir die Here te wees. Aäron het vir die Leviete versoening gedoen om hulle te reinig. 22Daarna het die Leviete gekom om vir Aäron en sy seuns te werk in die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Hulle het met die Leviete gedoen wat die Here vir Moses gesê het.
23Die Here het vir Moses gesê: 24“Daar is 'n wet, en al die Leviete moet gehoorsaam wees aan die wet. Die wet sê dat elkeen wat 25 jaar oud of ouer is, die werk moet kom doen in die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, 25maar almal wat 50 jaar oud of ouer is, moenie meer werk nie. 26Hulle mag nog die ander Leviete help om die werk te doen, maar hulle moenie self die werk doen nie. Dit is wat jy vir die Leviete moet sê hoe hulle die werk moet doen.”

Tans Gekies:

Numeri 8: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan