Spreuke 10:1-16
Spreuke 10:1-16 ABA
Spreuke van Salomo. 'n Pa en 'n ma is bly as hulle kinders wysheid het, maar hulle is hartseer as hulle kinders dwase is. As 'n mens verkeerd lewe, dan help dit niks dat hy baie goed gekry het nie. As hy reg lewe, dan sal dit hom red van die dood. As 'n mens reg lewe, dan laat die Here hom nie honger kry nie, maar vir die mense wat verkeerd doen, gee Hy nie die dinge wat hulle wil hê nie. Hande wat lui is, laat mense arm word, maar hande wat hard werk, maak mense ryk. 'n Kind wat in die somer die koring-oes bymekaarmaak, is verstandig. 'n Kind wat slaap wanneer hy die koring moet afsny, sal niks hê nie. Mense seën 'n persoon wat reg lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan probeer hy om ander mense seer te maak. Mense onthou 'n persoon wat reg gelewe het, maar niemand wil dink aan mense wat verkeerd gedoen het nie. 'n Verstandige mens doen wat ander mense vir hom sê om te doen, maar 'n dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. 'n Mens wat eerlik lewe, is veilig, maar wanneer iemand skelm is, dan sal ander mense dit uitvind. 'n Mens wat altyd ander mense wil bedrieg, laat hulle seerkry. 'n Dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. Wanneer die mens wat reg lewe, praat, dan laat hy ander mense lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan maak hy ander mense seer. Haat laat mense twis met mekaar, maar liefde praat nie oor die dinge wat vir ander mense pla nie. Wanneer 'n verstandige mens sy mond oopmaak, dan kom daar wysheid uit, maar die persoon wat nog baie moet leer, kry straf. Wyse mense weet baie, maar wanneer 'n dwaas sy mond oopmaak, dan gaan dit gou sleg. Die rykdom van 'n ryk mens is soos 'n sterk stad, maar dit gaan sleg met arm mense omdat hulle arm is. Die beloning van 'n mens wat reg doen, is die lewe self, alles wat die mens doen wat verkeerd lewe, is sonde.

