SPREUKE 10:1-16 - Compare All Versions
SPREUKE 10:1-16 ABA (Bybel vir almal)
Spreuke van Salomo. 'n Pa en 'n ma is bly as hulle kinders wysheid het, maar hulle is hartseer as hulle kinders dwase is. As 'n mens verkeerd lewe, dan help dit niks dat hy baie goed gekry het nie. As hy reg lewe, dan sal dit hom red van die dood. As 'n mens reg lewe, dan laat die Here hom nie honger kry nie, maar vir die mense wat verkeerd doen, gee Hy nie die dinge wat hulle wil hê nie. Hande wat lui is, laat mense arm word, maar hande wat hard werk, maak mense ryk. 'n Kind wat in die somer die koring-oes bymekaarmaak, is verstandig. 'n Kind wat slaap wanneer hy die koring moet afsny, sal niks hê nie. Mense seën 'n persoon wat reg lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan probeer hy om ander mense seer te maak. Mense onthou 'n persoon wat reg gelewe het, maar niemand wil dink aan mense wat verkeerd gedoen het nie. 'n Verstandige mens doen wat ander mense vir hom sê om te doen, maar 'n dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. 'n Mens wat eerlik lewe, is veilig, maar wanneer iemand skelm is, dan sal ander mense dit uitvind. 'n Mens wat altyd ander mense wil bedrieg, laat hulle seerkry. 'n Dwaas hou aan om te praat totdat hy sterf. Wanneer die mens wat reg lewe, praat, dan laat hy ander mense lewe, maar wanneer die mens wat verkeerd doen, praat, dan maak hy ander mense seer. Haat laat mense twis met mekaar, maar liefde praat nie oor die dinge wat vir ander mense pla nie. Wanneer 'n verstandige mens sy mond oopmaak, dan kom daar wysheid uit, maar die persoon wat nog baie moet leer, kry straf. Wyse mense weet baie, maar wanneer 'n dwaas sy mond oopmaak, dan gaan dit gou sleg. Die rykdom van 'n ryk mens is soos 'n sterk stad, maar dit gaan sleg met arm mense omdat hulle arm is. Die beloning van 'n mens wat reg doen, is die lewe self, alles wat die mens doen wat verkeerd lewe, is sonde.
SPREUKE 10:1-16 AFR53 (Afrikaans 1933/1953)
DIE spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verbly die vader, maar 'n dwase seun is 'n bekommernis vir sy moeder. Skatte deur goddeloosheid verwerf, bring geen voordeel nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg. Hy word arm wat met 'n trae hand werk, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer wegbêre, is 'n verstandige seun; hy wat vas slaap in die oestyd, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is daar op die hoof van die regverdige, maar die mond van die goddelose verberg geweld. Die nagedagtenis van die regverdige is tot seën, maar die naam van die goddelose vergaan. Hy wat wys van hart is, neem die gebooie aan, maar hy wat dwaas van lippe is, kom tot 'n val. Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig, maar hy wat sy weë krom maak, word bekend. Hy wat met sy oog knip, veroorsaak smart, en hy wat dwaas spreek, kom tot 'n val. Die mond van die regverdige is 'n fontein van lewe, maar die mond van die goddelose verberg geweld. Haat verwek twiste, maar liefde bedek al die oortredinge. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar die roede is vir die rug van die verstandelose. Die wyse lê kennis weg, maar die mond van die dwaas is 'n ondergang wat naby is. Die goed van die ryke is vir hom 'n sterk stad; die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede. Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde.
SPREUKE 10:1-16 AFR83 (Afrikaans 1983)
Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun maak sy vader en moeder bly; 'n dwase seun maak hulle hartseer. Goed wat deur onreg bekom is, bring geen voordeel nie; om te lewe volgens die wil van God, red 'n mens van die dood. Die Here laat die mens wat reg doen, nie honger ly nie, die Here laat die begeerte van dié wat verkeerd doen, nie bevredig word nie. 'n Mens wat nie sy hande uit sy mou steek nie, word arm; dit is vlyt wat ryk maak. Die verstandige mens samel sy oes in as dit ryp is; 'n mens wat die oestyd deur slaap, verdien veragting. Die regverdige word geseën. Daar steek geweld agter die mooi woorde van die goddeloses. Die nagedagtenis van dié wat reg doen, leef voort; die naam van dié wat verkeerd doen, word gou vergeet. Die mens met verstand aanvaar bevele. Wie aanhou onsin praat, kom tot 'n val. Wie opreg leef, leef sonder vrees; wie krom paaie loop, word uitgevind. Wie sy oë sluit vir die waarheid, veroorsaak smart; en wie aanhou onsin praat, kom self tot 'n val. Die woorde van die regverdige bring lewe en geluk; agter die mooi woorde van die goddeloses steek daar geweld. Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee. Daar is wysheid in die woorde van een wat insig het; slae is vir dié wat nie hulle verstand gebruik nie. Wyse mense loop nie te koop met hulle kennis nie; as 'n dwaas sy mond oopmaak, is sy ondergang naby. Die rykdom is die ryke se veilige vesting; die armoede is die arme se ondergang. Die regverdige ontvang die lewe as beloning; die goddelose oes net straf.
SPREUKE 10:1-16 AFR20 (Die Bybel 2020-vertaling)
Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan. Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy. 'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk. Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot. Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val. Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val. 'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings. Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand. Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede. Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde.
SPREUKE 10:1-16 CAB23 (Contemporary Afrikaans Bible 2023)
Die spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verbly 'n vader, maar 'n dwase seun is die swaarkry van sy moeder. Skatte van goddeloosheid baat niks, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE sal nie toelaat dat die siel van die regverdige honger ly nie, maar die goed van die goddelose verdryf Hy. Hy word arm wat met 'n slap hand handel, maar die hand van die vlytiges maak ryk. Hy wat in die somer insamel, is 'n wyse seun; maar hy wat in die oes slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is op die hoof van die regverdige, maar geweld bedek die mond van die goddelose. Die gedagtenis van die regverdige is geseënd, maar die naam van die goddelose sal verrot. Die wyse van hart sal gebooie ontvang, maar 'n gekwetter dwaas sal val. Hy wat opreg wandel, wandel sekerlik; maar hy wat sy weë verdraai, sal bekend word. Hy wat met die oog knip, veroorsaak droefheid, maar 'n fladderende dwaas sal val. Die mond van 'n regverdige is 'n put van die lewe, maar geweld bedek die mond van die goddelose. Haat verwek twis, maar liefde bedek alle sondes. Op die lippe van die verstandige word wysheid gevind, maar 'n roede is vir die rug van die verstandlose. Wyse manne bêre kennis, maar die mond van die dwase is naby die vernietiging. Die rykdom se rykdom is sy sterk stad; die ondergang van die armes is hulle armoede. Die arbeid van die regverdige lei tot die lewe, die vrug van die goddelose om te sondig.
SPREUKE 10:1-16 DB (Die Boodskap)
’n Gelowige kind maak sy ouers gelukkig. ’n Kind wat nie weet hoe om reg te leef nie, maak hulle hartseer. Geld wat oneerlik verkry is, bring net verdriet. Eerlike optrede maak ’n mens gelukkig. Die Here sorg vir sy kinders. Hy gee kos vir dié wat honger is. Die brandende begeertes van slegte mense word nooit waar nie. Wie lui is, word gou arm. Wie hard werk, het geld vir kos en klere. Wie hard werk, is slim. Wie rondstaan, niks doen en skelm slaap, is ’n verleentheid. Van ’n gelowige kan goeie dinge gesê word. Lank na sy dood word hy nog onthou. Sy woorde leef nog in mense se hart. Slegte mense se woorde is vol haat en geweld. Niemand dink daaroor na nie. Hulle word ook gou vergeet. ’n Gelowige neem die land se wette baie ernstig op. Wie dit verwerp, kom in die moeilikheid. Wie ’n reguit pad loop, is ’n gelukkige mens. Kronkelpaadjies bring jou in groot ellende. Wie skelmpies vir iemand knipoog om verkeerde dinge te doen kan groot moeilikheid veroorsaak. ’n Babbelende kletskous veroorsaak sy eie ondergang. ’n Gelowige se woorde kan baie vir mense beteken. Dit is ’n onuitputlike bron van inspirasie. Slegte mense se woorde is vol haat en nyd. Haat veroorsaak twis. Liefde vergewe alle oortredings. Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe. ’n Dwaas se woorde bring ’n mens net in die moeilikheid. ’n Wyse neem die lesse van die lewe ernstig op. ’n Dom mens weet niks van die regte manier van lewe nie. Sy geklets veroorsaak net ellende. ’n Ryke se geld kan hom lekker laat leef. Wie dit nie het nie, se lewe is hel. Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf.
SPREUKE 10:1-16 NLV (Nuwe Lewende Vertaling)
Die spreuke van Salomo. ’n Kind wat verstandig is, maak sy pa bly. ’n Seun wat dwaas is, maak sy ma hartseer. Goed wat onwettig verkry is, bring geen blywende voordeel nie. Om reg te lewe, red ’n mens van die dood. Die HERE laat regverdiges nie honger ly nie. Hy vervul nie die begeerte van die goddelose nie. Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk. Die verstandige mens samel sy oes in in die somer. Hy wat in die oestyd slaap, bring skande oor homself. Die regverdige word oorlaai met seëninge. Die slegte bedoelings van goddeloses steek hulle weg agter woorde. Dié wat reg lewe, sal lank onthou word. Hulle wat verkeerd gelewe het, sal gou vergeet word. ’n Mens met verstand aanvaar bevele. Hulle wat onsin babbel, bereik niks. Die een wat opreg lewe, lewe in veiligheid. Die een wat kronkelpaaie loop, kom tot ’n val. Hy wat skelmstreke uitdink, veroorsaak moeilikheid. Hy wat aanhou onsin praat, kom self tot ’n val. Die woorde van die regverdige is soos ’n fontein van lewe. Die woorde van goddeloses steek geweld weg. Haat bring rusie. Liefde bedek wat verkeerd gedoen is. Iemand wat insig het, sê dinge wat verstandig is. Die een wat onverstandig is, kry slae. Wyse mense versamel kennis. Dwase se gebabbel bring spoedig teëspoed. Die ryke se eiendom gee vir hom beskerming. Armoede is die arm mens se ondergang. Wat die regverdige verdien, gebruik hy om van te lewe. Wat die goddelose verdien, verkwis hy op oortredings.