Spreuke 10:1-16
Spreuke 10:1-16 AFR20
Spreuke van Salomo. 'n Wyse seun verheug sy vader, maar 'n dwase seun doen sy moeder verdriet aan. Skatte deur onreg verkry, baat niks nie, maar geregtigheid red van die dood. Die HERE laat die keel van 'n regverdige nie honger ly nie, maar die gulsigheid van goddeloses dwarsboom Hy. 'n Trae hand maak arm, maar die hand van vlytiges maak ryk. Wie in die somer versamel, is 'n verstandige seun; wie in die oestyd vas slaap, is 'n seun wat skande maak. Seëninge is bedoel vir die kop van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Herinnering aan 'n regverdige is tot seën, maar die roem van goddeloses verrot. Wie 'n wyse hart het, aanvaar gebooie; maar wie dwase lippe het, kom tot 'n val. Wie onberispelik leef, leef veilig; maar wie sy paaie vol kinkels maak, word betrap. Wie met sy oog knik, veroorsaak droefheid, en wie dwase lippe het, kom tot 'n val. 'n Bron van lewe is die mond van 'n regverdige, maar die mond van goddeloses verberg geweld. Haat verwek tweedrag, maar liefde bedek alle oortredings. Op die lippe van 'n verstandige word wysheid gevind, maar 'n lat is vir die rug van iemand sonder verstand. Wyses hou kennis in bewaring, maar die mond van 'n sot huisves dreigende ondergang. Die besittings van 'n ryke is sy sterk stad; die ondergang van armes is hulle armoede. Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde.

