Psalms 147:1-11

Psalms 147:1-11 ABA

Julle moet die Here prys! Want dit is goed om vir ons God te sing, ja, dit is lekker en dit is reg om Hom te prys. Dit is die Here wat Jerusalem weer bou, dit is Hy wat die mense bymekaarbring wat gevangenes is in ander lande. Dit is Hy wat mense gesond maak, mense wat baie moedeloos is, dit is Hy wat hulle seerplekke toedraai. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar moet wees, en Hy ken elke ster se naam. Ons Here is groot en baie sterk, 'n mens kan nie sy wysheid meet nie. Dit is die Here wat mense optel, die mense wat hulleself nie kan help nie, dit is Hy wat mense op die grond gooi, die mense wat verkeerd lewe. Julle moet sing en vir die Here dankie sê, julle moet vir ons God musiek maak op die lier. Dit is Hy wat die lug met wolke toemaak, Hy wat die reën vir die aarde gereedmaak, Hy wat die gras op die berge laat groei. Dit is Hy wat vir die diere hulle kos gee, en ook vir die kraaie se kuikens wanneer hulle skree. Sterk perde of vinnige manne is nie belangrik vir die Here nie, maar Hy hou van mense wat Hom dien, mense wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het.