1 Korinthiërs 12:1-11

1 Korinthiërs 12:1-11 AFR20

Wat die gawes van die Gees betref, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. Julle weet dat, toe julle heidene was, julle dikwels na die stom afgode meegevoer is, op watter manier julle ook al daartoe verlei is. Daarom maak ek aan julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God praat, sê “Jesus is vervloek!” nie, en niemand kan sê “Jesus is die Here!” behalwe deur die Heilige Gees nie. Daar is 'n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is 'n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is 'n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is: Aan een word 'n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander gawes van genesing deur die één Gees; aan een dinamiese kragte, aan 'n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan 'n ander verskillende soorte tale, en aan nog 'n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil.