1 KORINTIËRS 12:1-11

1 KORINTIËRS 12:1-11 Die Boodskap (DB)

My liewe vriende, nou wil ek met julle praat oor die verskillende maniere waarop die Gees in ons werk. Dit is vir my baie belangrik dat julle dit mooi verstaan. Julle onthou mos nog wat met julle gebeur het toe julle die Here nog nie geken het nie. Die afgode het die een of ander mag oor julle gehad wat julle na hulle toe getrek het. En dit is dooie beelde wat nie eens kan praat nie. As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie. As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê. Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie. Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge. Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen. Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld: Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees. Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak. Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word. Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon.

1 KORINTIËRS 12:1-11 Bybel vir almal (ABA)

My vriende, ek wil hê julle moet baie goed verstaan wat die Heilige Gees vir ons gegee het. Julle weet dit: Toe julle heidene was, het julle geglo in afgode wat nie kan praat nie. Julle het gedink die afgode kan julle help. Daarom sê ek nou vir julle: As die Gees van God in iemand se hart is, dan sal hy nie sê: “Jesus is vervloek” nie. En wanneer iemand sê: “Jesus is die Here,” dan sê hy dit net omdat die Heilige Gees in sy hart is. Daar is verskillende genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee. En daar is verskillende maniere om die Here te dien in die gemeente, maar dit is dieselfde Here wat sê hoe ons dit moet doen. En daar is verskillende wonderwerke, maar dit is dieselfde God wat mense help om al hierdie dinge te kan doen. Die Gees wys vir elkeen wat hy moet doen, want die Gees weet wat is goed vir die gemeente. Die Gees gee vir die een persoon die genadegawe om altyd te weet wat die regte ding is om te sê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mooi te kan verduidelik wat God wil hê. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om sterk in God te glo. Dieselfde Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om mense gesond te maak. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om wonderwerke te doen. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om die boodskap van God te bring. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te sê of 'n boodskap van God kom of van bose geeste. Hy gee vir 'n ander persoon die genadegawe om in tale te praat. Die Gees gee vir 'n ander persoon die genadegawe om te tolk wanneer iemand in tale praat. Dit is dieselfde Gees wat hierdie verskillende genadegawes vir mense gee. Hy gee vir elke gelowige sy eie genadegawe. En Hy besluit self watter genadegawe Hy vir elkeen wil gee.

1 KORINTIËRS 12:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En nou, broers en susters, kom ek by julle volgende navraag, naamlik oor die gawes van die Gees. Ek wil hê julle moet hieroor goed ingelig wees sodat julle julle gawes reg sal gebruik. Julle weet hoe julle destyds toe julle nog ongelowiges was, onder die aantrekkingskrag van die verskillende afgode herwaarts en derwaarts rondgesleep is – en dit nogal deur beelde wat nie ’n woord kan praat nie! Daarom wil ek nou hê julle moet weet dat iemand wat sê: “Vervloek is Jesus,” definitief nie onder die invloed van die Gees van God praat nie. Aan die ander kant is dit net die Heilige Gees wat dit vir iemand moontlik maak om te verklaar: “Jesus is die Here.” Daar is ’n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees. En daar is ’n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here. Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer. Elkeen van ons ontvang ’n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel. Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan ’n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis. Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees ’n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing, aan ’n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan ’n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste, aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê. Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.