1 Korinthiërs 15:12-20

1 Korinthiërs 15:12-20 AFR20

Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.