1 KORINTIËRS 15:12-20
1 KORINTIËRS 15:12-20 Bybel vir almal (ABA)
Ons, die apostels, bring die boodskap dat God vir Christus weer laat lewe het. Hoekom sê party van julle dat die dooie mense nie weer sal lewe nie? As die dooie mense nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken ons boodskap niks, en dan beteken julle geloof ook niks. Dan is ons ook vals getuies van God, omdat ons vertel dat God vir Christus weer laat lewe het. Want as die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan is dit nie waar dat God vir Christus weer laat lewe het nie. Ja, ek sê dit weer: As die mense wat gesterf het, nie weer sal lewe nie, dan het God ook nie vir Christus weer laat lewe nie. En as God nie vir Christus weer laat lewe het nie, dan beteken julle geloof niks, dan is julle nog nie vry van julle sondes nie. Dan het die mense wat aan Christus behoort het en gesterf het, verlore gegaan. As ons hoop dat Christus ons red net vir hierdie lewe op die aarde, dan moet al die mense baie jammer wees vir ons. Maar nee, God het vir Christus weer laat lewe, dit is seker. Christus is die eerste Een van almal wat gesterf het, en God het Hom weer laat lewe.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof; en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie. Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie; en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes; dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore. As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
As ons dan verkondig dat Christus uit die dood opgewek is, hoe kan party van julle nog beweer dat daar geen opstanding van die dooies is nie? As daar geen opstanding van die dooies is nie, beteken dit dat Christus ook nie opgewek is nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud. Verder sou dit beteken dat ons vals getuienis oor God afgelê het, omdat ons teen God in getuig het dat Hy Christus opgewek het. As dit dan waar is dat die dooies nie opgewek word nie, het Hy Christus ook nie opgewek nie. As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar as Christus verkondig word, dat Hy uit die dood opgewek is, waarom sê sommige van julle dat daar nie 'n opstanding van dooies is nie? As daar geen opstanding van dooies is nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is ons verkondiging sinloos, en ook julle geloof sinloos. Boonop word ons as valse getuies vir God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het – wat Hy dan nie opgewek het nie, as dit so is dat dooies nie opgewek kan word nie. Want as dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore. Indien ons hoop slegs vir hierdie lewe op Christus gevestig is, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense. Maar nou, •Christus ís opgewek uit die dood – die eersteling van die ontslapenes.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As Christus dan verkondig word dat Hy uit die dode opgestaan het, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie? Maar as daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus nie opgewek nie; En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking tevergeefs, en ook julle geloof tevergeefs. Ja, en ons word valse getuies van God gevind; omdat ons van God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, as die dode nie opstaan nie. Want as die dode nie opstaan nie, dan is Christus nie opgewek nie; En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof tevergeefs; julle is nog in julle sondes. Dan het ook die wat in Christus ontslaap het, omgekom. As ons net in hierdie lewe hoop op Christus het, is ons die ellendigste van alle mense. Maar nou is Christus uit die dode opgewek en het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Die Boodskap (DB)
Daar is tog geen twyfel oor die boodskap nie: Jesus was dood en is weer lewendig gemaak. Hoe is dit dan nog moontlik dat party van julle kan twyfel en sê dat God nie mense wat dood is lewendig sal maak nie? As God nie iemand wat dood is lewendig kan maak nie, sou Hy ook mos nie vir Jesus lewendig kon maak nie. As dit darem waar sou wees, beteken dit dat alles wat ons vir julle vertel het, net ’n klomp leuens is en dat julle in net mooi niks glo wanneer julle sê julle glo in Christus nie. En dit is nie al nie. As Jesus nog dood is, beteken dit dat ons ’n klomp leuens oor God ook vertel, want ons sê mos dat Hy Christus lewendig gemaak het. As God nie mense lewendig gaan maak nie, geld dieselfde mos vir Jesus - dan is Hy mos ook nie lewendig gemaak nie. En as God Hom nie lewendig gemaak het nie, is julle nog maar net soos julle altyd was, van kop tot tone in die sonde. Dan help dit niks meer dat julle sê julle glo nie. Dan is nie net ons nie, maar ook al die ander Christene wat al dood is, sonder enige hoop totaal verlore. As Christenskap net iets beteken terwyl ons nog op hierdie aarde is en daar vir ons niks meer oor is daarna nie, is ons ’n hopelose spul mense vir wie ander net baie jammer kan voel. Die waarheid is heeltemal anders: God hét Christus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. En Christus is maar die eerste Een van nog baie om te kom, dit waarborg Hy.
1 KORINTIËRS 15:12-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood bestaan nie? As daar werklik geen opstanding uit die dood is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval. Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie. Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes. In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore! As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees! Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan.