In daardie tyd het Abia, seun van Jerobeam, siek geword. Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Maak asseblief gereed; vermom jouself, sodat hulle nie weet dat jy die vrou van Jerobeam is nie, en gaan dan na Silo. Kyk, dit is waar die profeet Agija is. Dit is hy wat oor my voorspel het dat ek koning sal word oor hierdie volk. Neem tien brode, gebak en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal aan jou bekend maak wat met die seun gaan gebeur.” Die vrou van Jerobeam het toe so gemaak. Sy het gereedgemaak, na Silo gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie sien nie, want sy oë was al star vanweë sy ouderdom. Die HERE het egter vooraf vir Agija gesê: “Kyk, die vrou van Jerobeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek. Dit en dit moet jy vir haar sê. Wanneer sy inkom, sal sy haar as 'n vreemdeling voordoen.”
Net toe Agija die geluid van haar voetstappe hoor, terwyl sy by die ingang inkom, sê hy vir haar: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Nou hoekom doen jy jou as 'n vreemdeling voor? Ek word na jou gestuur met 'n harde woord. Gaan sê vir Jerobeam, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Omdat Ek jou verhef het uit die volk se midde en jou as leier oor my volk Israel aangestel het, en Ek die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit vir jou gegee het, maar jy nie was soos my dienskneg Dawid nie, hy wat my gebooie nagekom het en My gevolg het met sy hele hart deur slegs te doen wat reg is in my oë, ja, omdat jy meer kwaad gedoen het as almal wat voor jou was, en jy gegaan en vir jou ander gode gemaak het, gegote beelde, om My uit te tart, en omdat jy My verwerp het, daarom: Kyk, Ek gaan onheil bring oor die huis van Jerobeam. Ek sal van Jerobeam die mansmense in Israel uitroei, sowel hulle wat gevange is as hulle wat vrygelaat is. Ek sal die koningshuis van Jerobeam wegvee soos 'n mens drek wegvee, totdat hy heeltemal vernietig is. As iemand van Jerobeam in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van Jerobeam in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.” ’ Ja, die HERE self het dit gesê. En jy, staan op en gaan na jou huis toe! Wanneer jou voete die stad betree, sal die kind sterf. Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want van dié wat aan Jerobeam behoort, sal net hy in 'n graf kom, omdat daar, uit die huis van Jerobeam, in hom iets goeds gevind is deur die HERE, die God van Israel. Die HERE gaan vir Hom 'n koning laat opstaan oor Israel wat die huis van Jerobeam sal uitroei; dit is nou die tyd daarvoor. Maar wat is daar nou nog meer? Die HERE gaan Israel tref; hulle sal wees soos 'n riet wat in die water heen en weer swaai. Hy gaan Israel wegruk van hierdie goeie grond af wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle anderkant die Rivier verstrooi, omdat hulle asjeras gemaak het en die HERE gedurig uitgetart het. Hy gaan Israel prysgee oor die sondes van Jerobeam, die sondes wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.”
Jerobeam se vrou het opgestaan, sy het vertrek en by Tirsa aangekom. Toe sy oor die drumpel van die paleis trap, het die seun gesterf. Die hele Israel het hom begrawe en oor hom gerou, ooreenkomstig die woord van die HERE wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg, die profeet Agija.
Die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en regeer het – kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. Die tydperk wat Jerobeam koning was, was twee-en-twintig jaar. Hy het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword.