1 Konings 4

4
Salomo se amptenare
1Koning Salomo was koning oor die hele Israel. 2Dit was die hoofamptenare wat hy gehad het:
Asarja, seun van Sadok, was die hoëpriester;
3Eligoref en Agija, seuns van Sisa, was sekretarisse;
Josafat, seun van Agilud, was die herout.
4Benaja, seun van Jojada, was in bevel van die leër;
Sadok en Abjatar was priesters;
5Asarja, seun van Natan, was in bevel van die landvoogde;
Sabud, seun van Natan, 'n priester, was die vertroueling van die koning;
6Agisar was hoof van die hofhouding;
Adoniram, seun van Abda, was in bevel van die dwangarbeid.
7Salomo het twaalf landvoogde oor die hele Israel gehad. Hulle het aan die koning en sy hofhouding kos voorsien. Elkeen moes kos voorsien vir een maand in die jaar. 8Dit was hulle name:
Ben-Gur in die heuwelland van Efraim;
9Ben-Deker in Makas, Saälbim, Bet-Semes en Elon-Bet-Ganan;
10Ben-Gesed in Arubbot – sy verantwoordelikheid was Sogo en die hele Gefergebied;
11Ben-Abinadab in die hele heuwelland van Dor – Tafat, dogter van Salomo, was sy vrou;
12Baäna, die seun van Agilud, in Taänag en Megiddo, asook die hele Bet-San wat langs Saretan lê, van onderkant Jisreël af, van Bet-San na Abel-Megola tot anderkant Jokmoam;
13Ben-Geber in Ramot in Gilead – hy was in beheer van Gawwoot-Jaïr, wat in Gilead is; Jaïr was 'n seun van Manasse; hy was ook in beheer van die landstreek van Argob, wat in Basan is, sestig groot ommuurde stede met bronssluitbalke;
14Aginadab, seun van Iddo, in Maganajim;
15Agimaäs in Naftali – ook hy het 'n dogter van Salomo, Basemat, as vrou geneem;
16Baäna, seun van Gusai, in Aser en Alot;
17Josafat, seun van Paruag, in Issaskar;
18Simeï, seun van Ela, in Benjamin;
19Geber, seun van Uri, in die landstreek Gilead, die land van Sihon, koning van die Amoriete, en van Og, die koning van Basan. Daar was net een landvoog in dié gebied.
Salomo se rykdom en roem
20Die mense van Juda en Israel was baie, so talryk soos die sand wat langs die see is, hulle het geëet en gedrink en was gelukkig.
21 Salomo was die heerser in al die koninkryke, van die Rivier af na die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte. Hulle was aan Salomo skatpligtig en het hom gedien solank hy geleef het.
22Die voedsel gelewer aan Salomo vir een dag was dertig kor gesifte meel en sestig kor gewone meel; 23tien vetgemaakte beeste en twintig beeste van die veld af; 'n honderd stuks kleinvee, afgesien van rooitakbokke, gaselle, hartbeeste en gevoerde pluimvee.
24Ja, hy het oor die hele gebied wes van die Rivier regeer: van Tifsag tot by Gasa, oor al die konings wes van die Rivier. Hy het rondom, aan alle kante, vrede gehad. 25Juda en Israel het toe veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot Berseba, so lank as wat Salomo geleef het.
26Salomo het vierduisend stalle vir die perde van sy strydwamag gehad, en die bemanning van sy strydwaens was twaalfduisend.
27Daardie landvoogde moes kos voorsien aan koning Salomo en aan almal wat by die tafel van koning Salomo aangesit het, elkeen in die maand aan hom toegewys. Hulle het niks laat kortkom nie, 28ook nie die gars en strooi vir die perde van die strydwaens en die pakperde nie. Hulle het dit gebring na die plek waarheen elkeen gewoond was om dit te neem.
29 God het aan Salomo wysheid gegee – 'n besondere insig en begrip so omvangryk soos die sand wat langs die seestrand is. 30Die wysheid van Salomo was omvattender as die wysheid van al die mense uit die ooste, en as al die wysheid van Egipte. 31Hy was wyser as enige mens, wyser as Etan die man uit Esrag, en as Heman, Kalkol en Darda, seuns van Magol. Hy was beroemd onder al die omliggende nasies. 32Hy het drieduisend spreuke gedig, en eenduisend-en-vyf liedere. 33Hy het gedig oor bome – van die seder wat op die Libanon is tot die marjolein wat uit die mure groei. Hy het gedig oor diere, oor voëls, oor kruipende diere en oor visse. 34Mense uit al die volke het gekom om die wysheid van Salomo te hoor; hulle het gekom van al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.

Tans Gekies:

1 Konings 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan