1 Samuel 28

28
1Toe die Filistyne in daardie tyd hulle leërs byeenbring vir oorlog, om teen Israel te veg, het Agis vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan dat jy saam met my in die leër moet uittrek, jy en jou manne.” 2Dawid het Agis geantwoord: “In daardie geval sal u self agterkom wat u dienaar kan doen.” Waarop Agis toe vir Dawid sê: “Goed dan, ek stel jou aan as my permanente lyfwag.”
Saul en die oproeper van geeste
3 Toe Samuel dood is, het die hele Israel oor hom gerou en hom begrawe in sy tuisdorp, in Rama.
Saul het die oproepers van geeste en die waarsêers uit die land gesit.
4Die Filistyne het toe byeengekom. Hulle het die land binnegeval en kamp opgeslaan by Sunem. Saul het die hele Israel byeengebring, en hulle het kamp opgeslaan by Gilboa.
5Toe Saul die leër van die Filistyne sien, was hy bang en het sy hart verskriklik gebewe. 6 Saul het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die Urim, nóg deur die profete.
7 Saul sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my 'n vrou wat mag het oor geeste, dat ek na haar kan gaan en haar kan raadpleeg.” Sy amptenare sê vir hom: “Kyk, daar is 'n vrou met 'n waarsêerput in En-Dor.”
8 Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Hy gaan toe, hy en twee manne saam met hom, en kom in die nag by die vrou aan. Hy sê toe: “Tree asseblief vir my as voorspeller op deur die gees van 'n dooie. Laat vir my dié een opkom wat ek vir jou sal sê.” 9Die vrou sê egter vir hom: “Kyk, jy weet self wat Saul gedoen het, dat hy die oproepers van geeste en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom is jy besig om vir my 'n strik te stel om my dood te maak?” 10Maar Saul het vir haar 'n eed by die Here afgelê: “So waar as die Here leef, geen skuld sal op jou rus in hierdie saak nie.”
11Die vrou vra toe: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” Hy het gesê: “Laat Samuel vir my opkom.” 12Maar toe die vrou Samuel sien, het sy baie hard gegil. Die vrou sê toe vir Saul: “Waarom het u my mislei? U is dan Saul!”
13 Toe sê die koning vir haar: “Moenie bang wees nie. Maar wat sien jy?” Die vrou het vir Saul gesê: “Ek sien 'n geestelike wese besig om uit die grond op te kom.”
14 Hy vra haar toe: “Hoe lyk hy?” Sy het geantwoord: “'n Ou man is besig om op te kom, en hy het 'n mantel om hom.” Toe weet Saul dat dit Samuel is. Hy het gekniel met sy gesig na die grond en diep neergebuig.
15 Samuel sê toe vir Saul: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” Saul het geantwoord: “Ek is baie benoud. Die Filistyne voer teen my oorlog en God het van my gewyk. Hy antwoord my nie meer nie, nóg deur die profete, nóg deur drome. Toe het ek u opgeroep om aan my te kenne te gee wat ek moet doen.”
16Toe sê Samuel: “En waarom raadpleeg jy my, as die Here van jou gewyk en jou teenstander geword het? 17 Die Here het aan jou gedoen soos Hy deur my bekend gemaak het: Die Here het die koningskap uit jou hand geruk en dit aan jou medemens, aan Dawid, gegee. 18 Omdat jy nie na die stem van die Here geluister het nie, en nie sy brandende toorn oor Amalek voltrek het nie, daarom doen die Here dit vandag aan jou. 19 Die Here sal ook Israel saam met jou in die hand van die Filistyne oorgee. En môre sal jy en jou seuns by my wees. Ook die leër van Israel sal die Here in die hand van die Filistyne oorgee.”
20Saul het dadelik in sy volle lengte op die grond neergeval. Hy was angsbevange oor die woorde van Samuel. Daar was ook geen krag oor in hom nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie.
21Die vrou het na Saul gekom, en toe sy sien dat hy heeltemal verskrik is, sê sy vir hom: “Kyk, u slavin het na u geluister. Ek het my lewe in my hand geneem en u woorde wat u vir my gesê het, gehoorsaam. 22Luister u dan nou ook asseblief na u slavin. Laat ek 'n stukkie brood voor u neersit, sodat u kan eet. U moet krag hê, omdat u op u pad moet gaan.”
23 Maar hy het geweier en gesê: “Ek gaan nie eet nie.” Sy dienaars en ook die vrou het egter by hom aangedring. Hy het toe na hulle geluister, van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit.
24 Die vrou het by die huis 'n kalf op stal gehad, en sy het dit gou geslag. Sy het meel geneem, dit geknie en ongesuurde brood gebak. 25Sy het dit vir Saul en sy dienaars voorgesit en hulle het geëet. Hulle het gereedgemaak en dieselfde nag nog vertrek.

Tans Gekies:

1 Samuel 28: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan