1 Samuel 29

29
Wantroue van die Filistyne teenoor Dawid
1 Die Filistyne het hulle hele leër by Afek byeengebring, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël. 2Terwyl die Filistynse regeerders in eenhede van honderd en duisend verbytrek, het Dawid en sy manne heel agter saam met Agis verbygetrek. 3Die bevelvoerders van die Filistyne sê toe: “Wat van hierdie Hebreërs? ” Waarop Agis vir die Filistynse bevelvoerders sê: “Is dit nie Dawid, die dienaar van Saul, die koning van Israel, wat al 'n geruime tyd by my is nie? Ek kon niks teen hom vind nie, van die dag af dat hy oorgeloop het tot vandag toe.”
4Die bevelvoerders van die Filistyne het hulle bloedig vererg vir hom. Die Filistynse bevelvoerders het vir hom gesê: “Stuur die man terug! Hy moet teruggaan na sy plek wat jy aan hom toegewys het. Hy mag nie saam met ons aan die geveg deelneem nie, sodat hy nie in die geveg ons teenstander word nie. Waarmee sal dié man homself weer vir sy heer aanvaarbaar maak? Is dit nie met die koppe van hierdie manne nie? 5Is dit dan nie Dawid, vir wie hulle in hulle kringdanse sing nie?
“ ‘Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende!’ ”
6 Agis het Dawid toe ontbied en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is opreg. Dit is goed in my oë dat jy saam met my in die oorlog uittrek en terugkeer; want ek het niks verkeerds in jou gevind nie, van die dag af dat jy by my aangekom het tot vandag toe. Maar in die oë van die Filistynse regeerders is jy nie goed nie. 7Draai dan nou om en gaan in vrede, en moet niks verkeerds doen in die oë van die Filistynse regeerders nie.”
8Toe sê Dawid vir Agis: “Maar wat het ek gedoen? En wat het u in u dienaar gevind, van die dag af dat ek by u teenwoordig is tot vandag toe, dat ek nie mag gaan en veg teen die vyande van my heer die koning nie?” 9Agis antwoord toe en sê vir Dawid: “Ek weet dit. Ja, jy is in my oë so goed soos 'n boodskapper van God; maar die Filistynse bevelvoerders het gesê, ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’ 10Staan nou môre vroeg op, jy en die dienaars van jou heer wat saam met jou gekom het. Julle moet vroeg môre opstaan, en as dit lig genoeg is, moet julle vertrek.”
11 Dawid het toe vroeg opgestaan, hy en sy manne, om in die oggend te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne. Toe het die Filistyne opgeruk na Jisreël.

Tans Gekies:

1 Samuel 29: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan