2 Kronieke 14

14
1 Abia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom in die •Stad van Dawid begrawe. Sy seun Asa het in sy plek koning geword, en in sy tyd het die land tien jaar lank rus gehad.
Asa koning van Juda
2 Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3Hy het die vreemde altare en die offerhoogtes verwyder. Hy het die gedenkstene vernietig en die asjeras afgekap, 4en Juda aangesê om die Here, die God van hulle voorouers, te raadpleeg en om sy wet en gebooie uit te voer. 5Uit al die dorpe van Juda het hy die offerhoogtes en wierookaltare verwyder. Die koninkryk het rus gehad onder hom.
6Hy het stede wat versterk is in Juda gebou, omdat die land rustig was. Daar was geen oorlog teen hom in daardie jare nie, want die Here het vir hom rus gegee. 7Asa het vir Juda gesê: “Laat ons hierdie dorpe opbou, en rondom mure met wagtorings, poortdeure en sluitbalke oprig, terwyl die land nog tot ons beskikking is, omdat ons die Here ons God gesoek het. Ons het Hom gesoek, en Hy het vir ons aan alle kante rus gegee.” Hulle het toe gebou, en hulle was suksesvol.
8Asa het 'n leër gehad wat grootskilde en steekspiese dra, driehonderdduisend uit Juda, en uit Benjamin tweehonderd-en-tagtigduisend wat die kleinskild dra en die boog span. Hulle almal was dapper krygers. 9 Toe Serag, die Kussiet, teen hulle uitgetrek het met 'n leërmag van 'n miljoen en met driehonderd strydwaens, het hy tot by Maresa gekom. 10Asa het teen hom uitgetrek, en hulle het gevegslinies opgestel in die vallei van Sefata by Maresa. 11 Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: “Here, niemand is soos U om hulp te verskaf in 'n geveg tussen dié wat baie is en dié wat kragteloos is nie. Help ons, Here ons God, want op U steun ons, en in u Naam kom ons teen hierdie menigte te staan. Here, U is ons God; laat sterflinge nie teen U die oorhand kry nie.”
12Die Here het die Kussiete voor Asa en Juda uit verslaan en die Kussiete het gevlug. 13Asa en die manskappe wat by hom was, het hulle agtervolg tot by Gerar. Van die Kussiete het daar soveel gesneuwel dat nie een van hulle oorleef het nie. Ja, hulle is verpletter voor die Here en sy leër.
Die Judeërs het 'n baie groot buit geneem. 14Hulle het al die stede rondom Gerar verslaan, want vrees vir die Here het die mense oorval. Hulle het al die dorpe geplunder, want daar was baie buit daarin. 15Ook die veekrale het hulle aangeval en groot hoeveelhede kleinvee en kamele weggevoer. Daarna het hulle na Jerusalem teruggekeer.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan