2 Kronieke 2

2
Voorbereidings vir die bou van die tempel
1 Salomo het opdrag gegee dat 'n huis vir die Naam van die Here en ook sy eie koninklike paleis gebou moet word. 2 Salomo het sewentigduisend man as draers aangewys, tagtigduisend as klipkappers in die berge, en drieduisend seshonderd as toesighouers oor hulle. 3Salomo laat weet toe vir Huram, die koning van Tirus: “Soos wat u vir my vader Dawid gedoen het toe u vir hom sederhout gestuur het om 'n paleis te bou om in te woon, moet u ook vir my doen. 4Kyk, ek gaan 'n •tempel bou vir die Naam van die Here my God, om dit aan Hom te wy deur voor Hom geurige reukwerk te verbrand, sodat daar gereeld •vertoonbrode en soggens en saans brandoffers kan wees op die Sabbatte, die nuwemaansfeeste en die vasgestelde feestye van die Here ons God, as 'n verpligting wat altyd op Israel rus. 5Die tempel wat ek gaan bou, sal groot wees, want ons God is groter as al die gode. 6 Maar wie is werklik in staat om vir Hom 'n huis te bou? Ja, die hemelruim, die hoogste hemele, kan Hom nie omvat nie. Wie is ek dan dat ek vir Hom 'n huis wil bou, behalwe as 'n plek om daar voor Hom offers te verbrand? 7Stuur dan nou vir my iemand wat vaardig is om met goud, silwer, brons en yster te werk, en ook met purperrooi, karmosynrooi en pers materiaal, en wat weet hoe om graveerwerk te doen saam met die vakmanne hier by my in Juda en in Jerusalem wat deur my vader Dawid voorsien is. 8Stuur ook vir my seder-, sipres- en jenewerhout uit die Libanon, want ek weet dat u dienaars weet hoe om bome in die Libanon te kap. Kyk, my dienaars sal u dienaars bystaan 9om my van groot hoeveelhede hout te voorsien, want die huis wat ek gaan bou, moet groot en indrukwekkend wees. 10Kyk, vir u dienaars, vir die houtkappers wat die bome kap, sal ek twintigduisend kor koring as voedselvoorraad, twintigduisend kor gars, twintigduisend bat wyn en twintigduisend bat olyfolie gee.”
11Huram, die koning van Tirus, het 'n skriftelike antwoord vir Salomo gestuur: “Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.” 12Huram het ook gesê: “Die Here, die God van Israel, moet geprys word, Hy wat die hemel en die aarde gemaak en vir koning Dawid 'n wyse seun gegee het, met intelligensie en insig, wat vir die Here 'n huis sal bou en 'n paleis vir sy eie koninkryk. 13 Ek stuur dan nou vir u 'n wyse man met insig, Huram-Abi. 14Hy is die seun van 'n vrou uit die dogters van Dan, en sy vader is 'n man uit Tirus. Hy weet hoe om met goud en silwer, brons, yster, klip en hout, purperrooi en pers materiaal, fyn linne en karmosynrooi stof te werk, en hoe om enige graveerwerk te doen. Hy weet hoe om enige plan wat aan hom voorgelê word, vindingryk uit te voer saam met u vakmanne en die vakmanne van my heer, u vader Dawid. 15 Die koring en gars, die olyfolie en wyn waarvan my heer gepraat het, kan hy dan nou vir sy dienaars stuur. 16Aan ons kant sal ons die bome kap uit die Libanonbos, soveel as wat u nodig het, en dit vir u met vlotte seelangs na Jafo bring. U kan dit dan self na Jerusalem laat vervoer.”
17 Salomo het toe al die manne wat •vreemdelinge in die land Israel was, getel. Dit was ná die sensus wat sy vader Dawid van hulle gehou het. Daar is honderd drie-en-vyftigduisend seshonderd van hulle gevind. 18Uit hulle het hy sewentigduisend draers gemaak, tagtigduisend klipkappers in die berge en drieduisend seshonderd was toesighouers om die mense te laat werk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan