2 Korinthiërs 10

10
Paulus se gesag as apostel
1Ek self, Paulus – wat glo bedees is wanneer ek by julle teenwoordig is, maar ewe manhaftig teenoor julle wanneer ek afwesig is – doen 'n ernstige beroep op julle, met die sagmoedigheid en vriendelikheid van •Christus. 2Ek pleit dat, wanneer ek by julle is, ek nie manhaftig hoef te wees, met die selfvertroue waarmee ek reken om diegene aan te durf wat van mening is dat ons in menslike swakheid handel nie. 3Want al tree ons in menslike swakheid op, voer ons die stryd nie in menslike swakheid nie. 4Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar, danksy God, kragtig om sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig, 5en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God. Ook neem ons elke gedagte gevange tot gehoorsaamheid aan Christus, 6en staan gereed om elke ongehoorsaamheid te straf, tot wanneer julle volledig gehoorsaam sal wees.
7Kyk na wat ooglopend is: As iemand oortuig is dat hy aan Christus behoort, moet hy dit weer by homself in berekening bring dat, net soos hy aan Christus behoort, so ook ons. 8Want selfs al sou ek my 'n bietjie buitensporig beroem op die gesag wat die Here aan ons gegee het om julle op te bou, en nie om af te breek nie, sal ek nie daaroor skaam wees nie. 9My doel is nie om die indruk te skep dat ek julle met my briewe wil bangpraat nie. 10Want, sê hulle: “Sy briewe is gewigtig en streng, maar sy persoonlike teenwoordigheid is swak, en sy woorde niks werd nie.” 11So iemand moet hiermee rekening hou dat ons woorde in ons briewe, wanneer ons afwesig is, ooreenstem met ons dade wanneer ons teenwoordig is.
12Ons waag dit nie om onsself gelyk te stel aan of te vergelyk met sommige van dié wat hulleself aanbeveel nie. Maar omdat hulle hulle aan hulleself meet, en met hulleself vergelyk, verstaan hulle niks. 13Maar wat ons betref, ons sal nie buite ons perke gaan wanneer ons ons op iets beroem nie, maar binne die perke van die werksgebied wat God vir ons as perk gestel het, om julle ook te bereik. 14Ons oorskry immers nie ons perke, asof ons nog nie by julle uitgekom het nie; want ons was die heel eerste met die evangelie van Christus by julle. 15Ons oorskry ook nie ons perke deur ons op ander mense se arbeid te beroem nie. Ons koester egter die hoop dat, namate julle geloof toeneem, ons arbeid volgens ons werksgebied by julle grootliks mag uitbrei, 16sodat ons die evangelie ook in die landstreke anderkant julle kan verkondig, sonder om ons te beroem op die resultate wat in iemand anders se werksgebied bereik is. 17 Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here. 18 Want dit is nie die een wat homself aanbeveel, wat die toets deurstaan het nie, maar die een wat deur die Here aanbeveel word.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan