2 Korinthiërs 7

7
1Aangesien ons hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons reinig van alle besoedeling van liggaam en gees, terwyl ons met diep ontsag vir God ons heiligheid verwesenlik.
Blydskap oor die Korinthiërs se berou
2Maak vir ons ruimte. Ons het niemand veronreg nie; ons het niemand skade berokken nie; ons het niemand uitgebuit nie. 3Ek sê dit nie om julle te veroordeel nie – ek het vantevore al gesê dat julle in ons harte is om saam te sterf en saam te leef. 4Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle, en is baie trots op julle. Ek is nou vol moed, en loop oor van blydskap te midde van al ons verdrukking.
5Want selfs nadat ons in Macedonië gekom het, het ons liggaamlik geen rus gehad nie, en het ons van alle kante verdrukking ervaar – van buite aanslae, en van binne angs. 6Maar God, wat die neerslagtiges bemoedig, het ons bemoedig deur die koms van Titus – 7en nie net deur sy koms nie, maar ook deur die bemoediging waarmee hy oor julle bemoedig is. Hy het ons kom vertel van julle verlange, van julle berou, van julle ywer vir my, sodat ek my nou nog meer verheug. 8 Want al het ek julle met die brief bedroef gemaak, is ek nie spyt nie. En al was ek ook spyt – want ek sien dat daardie brief julle bedroef gemaak het, al was dit ook net vir 'n rukkie – 9is ek nou bly; nie omdat julle bedroef gemaak is nie, maar omdat julle droefheid tot berou gelei het. Julle is volgens die wil van God bedroef gemaak, met die gevolg dat julle in geen opsig deur ons benadeel is nie. 10Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. 11Want kyk nou net watter toewyding julle droefheid volgens die wil van God vir julle bewerk het: ja, watter verontskuldiging, watter verontwaardiging, watter ontsag, watter verlange, watter ywer, watter bestraffing! In elke opsig het julle getoon dat julle onskuldig is wat hierdie saak betref. 12Al het ek aan julle geskryf, was dit nie ter wille van die een wat onreg gepleeg het nie, en ook nie ter wille van die verontregte nie, maar ter wille daarvan dat julle toewyding vir ons duidelik aan julle bekend kan word voor God. 13Daarom is ons bemoedig.
En benewens ons bemoediging, het ons ons nog meer verbly oor Titus se blydskap, omdat hy gemoedsrus by julle almal gevind het. 14As ek enigsins oor julle by hom gespog het, staan ek nie beskaamd nie; maar soos alles wat ons julle vertel het, waar is, so het ons gespog by Titus ook waar geword. 15En sy toegeneentheid teenoor julle word al sterker, namate hy hom herinner aan julle almal se gehoorsaamheid, en hoe julle hom met vrees en bewing ontvang het. 16Ek is verheug dat ek in alle opsigte op julle kan staatmaak.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan