2 Samuel 4

4
Is-Boset se dood
1Toe Saul se seun, Is-Boset, hoor dat Abner gesterf het in Hebron, het hy moed verloor. Die hele Israel was angsbevange. 2Twee manne, die •aanvoerders van roofbendes, was by Saul se seun. Die een se naam was Baäna en die ander een se naam was Regab. Hulle was seuns van Rimmon, 'n man van Beërot, een van die Benjaminiete.
Ja, ook Beërot word as deel van Benjamin gereken. 3Die mense van Beërot het na Gittajim gevlug. Daar is hulle •vreemdelinge; dit is vandag nog so.
4Saul se seun Jonatan het 'n seun gehad met misvormde voete. Hy was vyf jaar oud toe die tyding oor Saul en Jonatan hulle uit Jisreël bereik het. Sy oppasser het hom opgetel en gevlug, maar in haar haas om weg te kom, het die seuntjie geval en kreupel geword. Sy naam was Mefiboset.
5Regab en Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, het geloop en op die hitte van die dag by Is-Boset se huis aangekom. Hy was juis besig om sy middagslapie te geniet. 6Daar het hulle die huis binnegegaan – gewoonlik het hulle koring gaan haal – en hom in die maag gesteek.
Regab en Baäna, sy broer, het verbygeglip 7en die huis binnegegaan terwyl Is-Boset in sy slaapkamer op sy bed gelê het. Hulle het hom gesteek en doodgemaak, sy kop afgekap en dit saamgevat. Hulle het die hele nag met die pad van die Araba langs geloop 8en Is-Boset se kop vir Dawid in Hebron gebring. Hulle het vir die koning gesê: “Hier is die kop van Is-Boset, die seun van Saul, u vyand wat u lewe gesoek het. Die Here het op hierdie dag vir my heer die koning wraak geneem op Saul en sy nageslag.”
9Dawid het Regab en sy broer Baäna, die seuns van Rimmon uit Beërot, geantwoord en vir hulle gesê: “So waar as die Here leef, Hy wat my lewe uit alle nood gered het – 10 die een wat vir my 'n berig gebring het, ‘Kyk, Saul is dood!’ terwyl hy gedink het hy bring goeie nuus, het ek gegryp en hom om die lewe gebring by Siklag, hom aan wie ek eintlik die loon van 'n boodskapper moes gee. 11Hoeveel te meer sal ek, wanneer goddelose manne 'n regverdige man in sy huis op sy bed vermoor, nie nou sy bloed van julle hande eis en julle van die aarde af verdelg nie?”
12Dawid het die jong manne opdrag gegee, en hulle het hulle om die lewe gebring. Hulle het hulle hande en voete afgekap en hulle by die dam by Hebron opgehang. Is-Boset se kop het hulle geneem en dit in Abner se graf by Hebron gesit.

Tans Gekies:

2 Samuel 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan