2 Samuel 7:1-29

2 Samuel 7:1-29 AFR20

Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die HERE het tot Natan gekom: “Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ” Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “ ‘ “Die HERE maak aan jou bekend dat Hy, die HERE, 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ” Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, HERE, my Heer; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, HERE, my Heer, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms, en dit as voorskrif vir mense, HERE, my Heer. Maar wat kan Dawid verder vir U sê? U ken self u dienskneg, HERE, my Heer. Ter wille van u belofte en volgens u wil het U hierdie hele groot saak so bewerk dat dit aan u dienskneg bekend kon word. Daarom, U is groot, HERE, my Heer; ja, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir Homself naam te maak deur aan hulle grootse en wonderlike dade te doen, en aan u land, ter wille van u volk wat U vir U vrygekoop het van Egipte, van die nasies en die gode van Egipte? U het u volk Israel vir U as volk gevestig vir altyd. U, HERE, U het hulle God geword. HERE, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het, sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die HERE, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, want U, HERE, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’ Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaar. U het hierdie goeie woord oor u dienskneg uitgespreek. Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, HERE, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.”