2 SAMUEL 7:1-29
2 SAMUEL 7:1-29 Bybel vir almal (ABA)
Die koning het in sy paleis gewoon. Die Here het hom laat rus. Nie een van sy vyande het nog oorlog gemaak teen hom nie. Die koning sê toe vir die profeet Natan: “Kyk, ék woon in 'n paleis van sederhout, maar die kis van God staan in 'n tent.” Natan het vir die koning gesê: “Jy mag alles doen wat jy wil doen, want die Here is by jou.” Maar daardie nag het Natan gehoor die Here sê vir hom: “Jy moet vir my dienaar Dawid gaan sê dat Ek sê: ‘Is dit jý wat vir My 'n tempel wil bou om in te woon? Ek vra dit, want Ek het nie in 'n tempel gewoon nie vandat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het saam met hulle rondgegaan in 'n tent of 'n tempel-tent. Ek het oral saam met die Israeliete gegaan, maar Ek het nooit gekla by een van die leiers wat Ek gekies en aangestel het om vir my volk Israel 'n herder te wees nie. Ek het nooit gevra dat julle vir My 'n tempel moet bou van sederhout nie.’ Daarom moet jy vir my dienaar Dawid sê dat Ek, die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Dit is Ék wat jóú weggeneem het uit die weiveld by die skape en bokke. Ék het jou daar weggeneem om koning te word oor my volk Israel, en Ék was by jou oral waar jy gegaan het. Ék het al jou vyande laat sterf en Ék het jou so belangrik laat word soos die belangrike konings op die aarde. Ék het vir my volk Israel 'n plek gegee om te woon, en hulle woon in hulle eie land. Niemand pla hulle nie, en slegte mense laat hulle nie meer swaarkry nie soos voorheen in die tyd toe Ek leiers gekies en aangestel het oor my volk Israel. Ek het jou laat rus, vyande maak nie meer oorlog teen jou nie. “ ‘Nou sê Ek vir jou: Ek sal vir jóú 'n koningshuis gee. Wanneer jou tyd verby is en jy sterf, dan sal Ek een van jou eie seuns koning laat word, en hy sal lank koning wees. Hý sal vir My 'n tempel bou, en Ek sal hom baie lank laat regeer. Ek sal vir hom wees soos 'n pa, en hy sal vir My wees soos 'n seun. Wanneer hy verkeerde dinge doen, dan sal Ek hom straf soos 'n mens 'n kind straf. Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir Saul wat vóór jou koning was nie. Jou koningshuis sal baie lank aanhou regeer, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.’ ” Natan het vir Dawid alles gesê wat die Here vir hom gesê en gewys het. Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen? En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, 'n mens. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar. U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê. Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van 'n ander God nie. En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself 'n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode. U het u volk Israel 'n volk gemaak wat baie lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword. En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het. U moet altyd belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien. Want U, Here wat oor alles regeer, God van Israel, dit is U wat dit vir u dienaar gesê het. U het gesê U sal vir my 'n koningshuis bou. Dit is hoekom u dienaar hierdie gebed tot U kon bid. En nou, Here, my Here, U alleen is God, en U sal doen wat U gesê het. U het hierdie goeie ding gesê oor u dienaar. Begin nou asseblief en laat dit goed gaan met u dienaar se koningshuis, U moet altyd by die koningshuis wees. Want U, Here, my Here, het gepraat. U het gesê dit sal goed gaan, en daarom sál dit altyd goed gaan met die koningshuis van u dienaar.”
2 SAMUEL 7:1-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN terwyl die koning in sy huis woon, nadat die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom, sê die koning vir die profeet Natan: Kyk tog, ék woon in 'n huis van sederhout, maar die ark van God woon binnekant 'n tentdoek. Toe sê Natan aan die koning: Gaan heen, doen alles wat in u hart is, want die HERE is met u. Maar in dieselfde nag kom die woord van die HERE tot Natan en sê: Gaan sê aan my kneg, aan Dawid: So spreek die HERE: Sou jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het tog in geen huis gewoon van die dag af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie; maar Ek het rondgetrek in 'n tentwoning. Oral waar Ek onder al die kinders van Israel rondgetrek het, het Ek ooit 'n woord gespreek met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van sederhout nie? So moet jy dan nou aan my kneg, aan Dawid, sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek self het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg, om 'n vors te wees oor my volk, oor Israel; en Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en het al jou vyande voor jou uitgeroei; en Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is; en Ek sal vir my volk Israel 'n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die HERE gee jou te kenne dat die HERE vir jou 'n huis sal stig. As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hý sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met 'n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid. Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie hele gesig, so het Natan met Dawid gespreek. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en gesê: Wie is ek, Here HERE, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, Here HERE, sodat U ook aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het; en dit is die wet vir mense, Here HERE! Maar wat sal Dawid nog verder met U spreek? want U ken u kneg, Here HERE. Ter wille van u woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen, om dit aan u kneg bekend te maak. Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as 'n volk gaan verlos het, en om vir Hom 'n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge aan u land voor u volk uit wat U verlos het vir U van Egipte, van die heidene en hulle gode? En U het u volk Israel vir U bevestig as 'n volk vir U tot in ewigheid; en U, HERE, het vir hulle 'n God geword. Laat dan nou, HERE God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, in vervulling gaan tot in ewigheid, en doen soos U gespreek het; sodat u Naam groot kan wees tot in ewigheid deurdat hulle sê: Die HERE van die leërskare is God oor Israel; en die huis van u kneg Dawid sal voor u aangesig bestendig wees. Want U, HERE van die leërskare, God van Israel, het die oor van u kneg geopen en gesê: Ek sal vir jou 'n huis bou; daarom het u kneg vrymoedigheid gevind om hierdie gebed tot U te bid. En nou, Here HERE, U is God en u woorde is waarheid; en U het u kneg hierdie goeie saak toegesê. Laat dit U dan nou behaag en seën die huis van u kneg, sodat dit vir ewig voor u aangesig kan wees; want U, Here HERE, het dit gespreek, en deur u seën sal die huis van u kneg vir ewig geseënd wees.
2 SAMUEL 7:1-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in 'n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in 'n tent.” Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.” Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: “Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My 'n huis bou om in te woon? Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in 'n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My 'n huis wat met sederhout versier is nie?’ “Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. Ek het 'n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou 'n koningshuis gaan vestig. Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom 'n bestendige koningskap gee. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. Ek sal vir hom 'n vader wees en hy sal vir My 'n seun wees. As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.” Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra. Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het? Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat 'n toesegging aan 'n mens, Here my God! “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak. Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vrygemaak het. U het u volk Israel vir U gevestig as 'n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword. En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: “ ‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel.’ “Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan. Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou 'n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig. “En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak. Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”
2 SAMUEL 7:1-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die koning gevestig was in sy paleis, en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande rondom hom, het die koning vir Natan, die profeet, gesê: “Begryp tog, ek woon in 'n huis van sederhout, terwyl die ark van God in 'n tent gehuisves word.” Natan antwoord toe die koning: “Gaan doen alles wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar in daardie nag het dit gebeur – die woord van die HERE het tot Natan gekom: “Gaan sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE: “Gaan jý vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het mos nie in 'n huis gewoon vanaf die dag dat Ek die Israeliete laat optrek het uit Egipte tot vandag toe nie. Ek het altyd rondgetrek in 'n tent en 'n •tabernakel. Het Ek ooit, oral waar Ek rondgetrek het onder al die Israeliete, met een van die stamme van Israel, wat Ek aangestel het om my volk Israel op te pas, die saak aangeroer en gesê, ‘Waarom het julle nie vir My 'n huis van sederhout gebou nie?’ ” Daarom, so moet jy sê vir my dienskneg, vir Dawid, ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte: “Ek is die Een wat jou uit die weiveld agter die kleinvee weggeneem het om 'n leier te wees oor my volk Israel. Ek was met jou oral waar jy gegaan het, en Ek het al jou vyande voor jou uitgeroei. Ek sal vir jou 'n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op aarde is. Ek sal vir my volk, vir Israel, 'n plek aanwys; Ek sal hom plant, en hy sal op sy plek woon en nie weer beef van angs nie. Skurke sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, soos van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. En Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “ ‘ “Die HERE maak aan jou bekend dat Hy, die HERE, 'n huis vir jou sal oprig. Wanneer jou tyd aangebreek het en jy by jou voorvaders gaan rus, sal Ek jou nakomeling ná jou, hy wat uit jou liggaam sal voortkom, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir my Naam 'n huis sal bou, en Ek sal sy koninklike troon vir altyd laat vasstaan. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees. Daarom, wanneer hy afdwaal, sal Ek hom straf met 'n stok wat manne gebruik en met houe wat mense toedien. Maar my troue liefde sal nie van hom wyk nie, soos wat Ek dit aan Saul onttrek het wat Ek voor jou verwyder het. Jou huis en jou koningskap sal vir altyd bestendig wees voor My, jou troon sal vir altyd in stand bly.” ’ ” Ooreenkomstig al hierdie woorde en hierdie hele onthulling, presies so het Natan die boodskap aan Dawid oorgedra. Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, HERE, my Heer; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, HERE, my Heer, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms, en dit as voorskrif vir mense, HERE, my Heer. Maar wat kan Dawid verder vir U sê? U ken self u dienskneg, HERE, my Heer. Ter wille van u belofte en volgens u wil het U hierdie hele groot saak so bewerk dat dit aan u dienskneg bekend kon word. Daarom, U is groot, HERE, my Heer; ja, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk, soos Israel, die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir Homself naam te maak deur aan hulle grootse en wonderlike dade te doen, en aan u land, ter wille van u volk wat U vir U vrygekoop het van Egipte, van die nasies en die gode van Egipte? U het u volk Israel vir U as volk gevestig vir altyd. U, HERE, U het hulle God geword. HERE, God, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, vir altyd; doen wat U gesê het, sodat u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘Die HERE, Heerser oor alle magte, is God oor Israel.’ En wat die huis van u dienskneg Dawid betref, mag dit voor U in stand bly, want U, HERE, Heerser oor alle magte, God van Israel, het aan u dienskneg dit geopenbaar, en gesê, ‘'n Huis sal Ek vir jou bou.’ Daarom het u dienskneg die moed om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE, my Heer, U is God, en u woorde is betroubaar. U het hierdie goeie woord oor u dienskneg uitgespreek. Wees dan nou bereid om die huis van u dienskneg te seën, sodat dit vir altyd voor U sal wees. U, HERE, my Heer, het dit immers self gesê, en deur u seën sal die huis van u dienskneg altyd geseënd wees.”
2 SAMUEL 7:1-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die koning in sy huis sit en die HERE hom rus gegee het rondom van al sy vyande; Die koning het vir die profeet Natan gesê: Kyk tog, ek woon in 'n huis van sederhout, maar die ark van God woon binne gordyne. Toe sê Natan aan die koning: Gaan doen alles wat in jou hart is; want die HERE is met jou. En daardie nag het die woord van die HERE tot Natan gekom en gesê: Gaan sê vir my dienaar Dawid: So spreek die HERE: Sal jy vir My 'n huis bou om in te woon? Ek het in geen huis gewoon van die tyd af dat Ek die kinders van Israel uit Egipte laat optrek het tot vandag toe nie, maar in 'n tent en in 'n tabernakel gewandel het. In al die plekke waarin Ek met al die kinders van Israel gewandel het, het Ek 'n woord gespreek met enige van die stamme van Israel wat Ek beveel het om my volk Israel op te pas, en gesê: Waarom bou julle nie vir My 'n huis van seder nie? Daarom moet jy dan nou vir my kneg Dawid sê: So spreek die HERE van die leërskare: Ek het jou uit die skaapstal geneem, agter die skape af, om heerser te wees oor my volk, oor Israel. En Ek was met jou waar jy ook al gegaan het, en Ek het al jou vyande uit jou aangesig uitgeroei en vir jou 'n groot naam gemaak soos die naam van die groot manne wat op die aarde is. Verder sal Ek vir my volk Israel 'n plek aanwys en hulle plant, dat hulle in 'n plek van hul eie kan woon en nie meer wankel nie; en die kinders van goddeloosheid sal hulle nie meer verdruk soos tevore nie, En soos van die tyd af dat Ek beveel het dat regters oor my volk Israel moet wees, en Ek jou laat rus het van al jou vyande. Ook sê die HERE vir jou dat Hy vir jou 'n huis sal maak. En wanneer jou dae vervul is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nageslag ná jou laat opstaan, wat uit jou ingewande sal voortkom, en Ek sal sy koninkryk bevestig. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal die troon van sy koninkryk bevestig tot in ewigheid. Ek sal sy vader wees, en hy sal my seun wees. As hy onreg doen, sal Ek hom tugtig met die roede van mense en met die slae van die mensekinders; Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit van Saul geneem het, wat Ek voor jou weggesit het. En jou huis en jou koninkryk sal vir ewig vasstaan voor jou; jou troon sal vir ewig vasstaan. Volgens al hierdie woorde en volgens al hierdie gesig, so het Natan met Dawid gespreek. Toe het koning Dawid ingegaan en voor die aangesig van die HERE gaan sit en gesê: Wie is ek, HERE HERE? en wat is my huis dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog 'n klein ding in u oë, HERE HERE; maar jy het ook nog lank oor die huis van u kneg gespreek. En is dit die manier van die mens, HERE HERE? En wat kan Dawid meer vir jou sê? want U, HERE HERE, ken u kneg. Ter wille van u woord en na u eie hart het u al hierdie groot dinge gedoen om u dienaar dit te leer ken. Daarom is U groot, HERE God, want daar is niemand soos U nie, en daar is geen God buiten U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En watter een nasie op die aarde is soos u volk, soos Israel, wat God gegaan het om vir Hom as 'n volk te verlos en vir hom 'n naam te maak en om vir jou groot en verskriklike dinge te doen vir jou land, voor jou volk wat jy vir jou losgekoop het uit Egipte, van die nasies en hulle gode? Want U het u volk Israel vir U bevestig om vir U 'n volk te wees tot in ewigheid; en U, HERE, het hulle God geword. En nou, HERE God, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, bevestig dit vir ewig, en doen soos U gespreek het. En laat u Naam tot in ewigheid groot wees deur te sê: Die HERE van die leërskare is die God oor Israel, en laat die huis van u kneg Dawid voor jou vasstaan. Want U, HERE van die leërskare, God van Israel, het dit aan u kneg geopenbaar deur te sê: Ek sal vir jou 'n huis bou; daarom het u dienaar in sy hart gevind om hierdie gebed tot U te bid. En nou, HERE HERE, is U daardie God, en u woorde is waar, en U het hierdie goedheid aan u kneg belowe. Laat dit U dan nou behaag om die huis van u kneg te seën, dat dit vir ewig voor u aangesig kan bestaan, want U, HERE HERE, het dit gespreek; en laat die huis van u kneg met u seën vir ewig geseën word.
2 SAMUEL 7:1-29 Die Boodskap (DB)
Dawid het lekker in sy paleis gebly. Niemand het hom gepla nie, want die Here het al die vyande in die lande om hom op hulle plek gehou. Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.” Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.” Maar daardie nag het die Here met Natan gepraat: “Gaan sê vir Dawid Ek het gesê: ‘Jy wil vir My ’n huis bou om in te bly; maar Ek het nog nooit in ’n huis gebly nie, van daardie tyd af wat Ek die Israeliete laat wegtrek het uit Egipte tot nou toe. Oral waar Ek gegaan het, was my woonplek ’n tent. Ek het nooit, op enige plek waar Ek by die Israeliete was, iets oor ’n huis gesê nie. Ek het nooit vir enige van die leiers wat Ek aangestel het om vir my volk Israel te sorg, gevra hoekom bou hulle nie vir My ’n huis met duur hout nie.’ “Daarom moet jy nou vir my getroue werker, vir Dawid, gaan sê wat Ek, die magtige Here, sê. Sê vir hom: ‘Ek self het jou agter die skape gaan haal om ’n leier vir my mense, die Israeliete, te wees. Ek het jou gehelp oral waar jy gegaan het. Ek het al jou vyande voor jou weggevee en Ek het jou een van die beroemdste mense op aarde gemaak. Ek het vir my volk, vir Israel, ’n plek gegee waar hulle altyd kan bly. Niemand pla hulle meer nie, en daar is nie meer slegte mense wat hulle laat swaarkry soos vroeër in die tyd toe Ek regters oor my volk aangestel het nie. Jou vyande pla jou ook nie meer nie. “‘Ek, die Here, sê nou vir jou dat Ek vir jóú ’n huis gaan bou, ’n koningshuis. Wanneer jy die dag doodgaan en begrawe word, sal Ek sorg dat jou eie seun koning word en Ek sal sorg dat hy lank koning bly. Hý sal vir My ’n huis bou waarin Ek self sal wees. En Ek sal sorg dat iemand van sy nageslag altyd koning is. Ek sal vir hom soos ’n pa wees en hy sal vir My soos ’n seun wees. As hy ’n fout maak, sal Ek hom straf soos ’n pa sy seun straf. Maar Ek sal nie my rug vir hom draai soos Ek dit met Saul gedoen het en jou toe in sy plek gesit het nie. Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’” Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê. Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het? Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here? Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here. U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel! U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker. “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het. U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God. “Nou vra ek, Here my God, dat U asseblief die belofte wat U gemaak het vir hierdie werker van U en vir sy familie, vir altyd waar sal maak; ja, dat U sal doen wat U gesê het U gaan doen. Mense sal dan altyd met groot respek van U praat en sê: ‘Die magtige Here is Israel se God.’ “En laat die koningshuis van Dawid u werker asseblief nie tot niet gaan nie. Magtige Here, God van Israel, U het tog self vir my gesê dat U vir my ’n huis sal bou. Dit is hoekom ek die moed gehad het om te bid soos ek gebid het. Groot Here, U alleen is God. U woorde word waar; ook hierdie mooi woorde wat U vir my gesê het. Maak dan nou asseblief my koningshuis voorspoedig. Gee tog dat my nageslag altyd naby U sal wees. Groot Here, U het ’n belofte gemaak en as U ons help, sal dit altyd met ons goed gaan.”
2 SAMUEL 7:1-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Dawid in sy paleis gevestig was en die HERE hom rus gegee het van al sy vyande om hom, het Dawid die profeet Natan ontbied. “Kyk!” sê Dawid. “Hier woon ek in ’n pragtige paleis van sederhout, maar die ark van God staan in ’n tent!” Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus wat u in gedagte het, want die HERE is met u.” Maar daardie selfde nag het die HERE vir Natan gesê: “Gaan sê vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die HERE sê: Wil jy vir My ’n huis bou om in te woon? Vandat Ek die Israeliete uit Egipte gelei het tot nou toe het Ek nog nooit in ’n huis gewoon nie. My huis was ’n tentwoning wat van plek tot plek verskuif het. Ek het al die tyd saam met Israel getrek. Ek het nooit enigeen van die leiers wat Ek beveel het om die volk Israel te lei, gevra: Hoekom bou julle nie vir My ’n huis van sederhout nie?’ “Gaan en sê nou vir my dienaar Dawid: ‘Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: Ek het jou uit die weiveld, van agter die skape weggevat om oor my volk Israel te kom heers. Ek was by jou oral waar jy gegaan het en Ek het al jou vyande vernietig. Ek het jou naam beroemd gemaak oor die hele aarde. Ek het my volk Israel ’n vaste woonplek gegee, en hulle daar gevestig. Dit is ’n veilige plek waar hulle nie weer gesteur sal word nie. Bose mense sal hulle nie onderdruk soos in die verlede, in die tyd toe Ek rigters aangestel het om oor my volk te heers nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. “‘Nou verklaar die HERE dat Hy vir jou ’n koningshuis sal bou. Wanneer jy sterf en by jou voorouers begrawe word, sal Ek een uit jou nageslag, jou eie seun, in jou plek koning maak en Ek sal sy koninkryk vas laat staan. Hy sal tot eer van my Naam ’n huis bou en Ek sal sy troon bevestig vir altyd. Ek sal vir hom soos ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees. As hy oortree, sal Ek hom bestraf deur mense en menslike middels. Maar my troue liefde sal Ek nie van hom af wegneem soos Ek dit tot jou voordeel van Saul af weggeneem het nie. Jou koningshuis en jou koninkryk sal vir altyd vasstaan en jou troon sal vir altyd voortbestaan.’” Natan het toe na Dawid toe teruggegaan en hom alles vertel wat die HERE gesê het. Toe het koning Dawid ingegaan en voor die HERE gaan sit en gebid: “Wie is ek, oppermagtige HERE, en wie is my nageslag dat U so baie vir my gedoen het? En selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, oppermagtige HERE, want U het ook gepraat van ’n toekomstige koningshuis vir u dienaar! Wat ’n belofte aan ’n mens, oppermagtige HERE! “Wat meer kan ek sê? U ken my, u dienaar, oppermagtige HERE. Ter wille van u dienaar en volgens u wil het U hierdie groot ding gedoen en dit vir my, u dienaar, bekendgemaak. “Daarom is U groot, oppermagtige HERE! Daar is niemand soos U nie. Ons het nog nooit gehoor van enige God soos U nie. En watter ander volk is soos Israel? Dis die een nasie op aarde wat U, God, uit slawerny verlos het en U eie volk gemaak het. U het ’n groot naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het en met groot ontsagwekkende dade die nasies en gode wat in hulle pad gestaan het, uitgedryf het. U het Israel tot u volk gemaak vir altyd, en U, HERE, het hulle God geword. “En nou, HERE God, doen wat U belowe het oor my en my nageslag en bevestig dit vir altyd sodat u Naam vir altyd geëer mag word. Mag daar gesê word: ‘Die HERE, die Almagtige, is God van Israel!’ En mag die koningshuis van u dienaar Dawid in u teenwoordigheid vas bly staan. “HERE, Almagtige, God van Israel, ek het die vrymoedigheid geneem om hierdie gebed tot U te bid, want U het bekendgemaak dat U ’n huis vir my sal bou! “Nou, oppermagtige HERE, U is God en u woorde is waarheid. U het hierdie goeie dinge aan u dienaar belowe. Mag U nou asseblief die huis van u dienaar seën sodat dit vir altyd voor U mag bestaan, want U, oppermagtige HERE, het dit belowe. Met u seën sal die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën wees!”