2 Thessalonisense 2

2
Gebeure voor Christus se wederkoms
1Wat die koms van ons Here Jesus •Christus en ons ontmoeting met Hom betref, vra ons julle, broers, 2om nie skielik kop te verloor en verontrus te word deur 'n geestesuitspraak of 'n woord of 'n brief, wat skynbaar van ons af sou kom, en waarvolgens die dag van die Here reeds aangebreek het nie. 3Laat niemand julle op enige manier op 'n dwaalspoor bring nie; want hierdie dinge kan nie gebeur voordat die afvalligheid eers plaasgevind het, en die mens van wetteloosheid geopenbaar is nie. Hy is die seun van die verderf, 4die een wat teenstand bied, en hom verhef oor alles wat God of voorwerp van aanbidding genoem word, sodat hy selfs in die •tempel gaan sit en hom as God voordoen. 5Onthou julle nie dat ek herhaaldelik met julle oor hierdie dinge gepraat het toe ek nog by julle was nie? 6En nou weet julle wat dit is wat hom terughou, om op sy eie tyd geopenbaar te word. 7Want die wetteloosheid is reeds in die geheim aan die werk, maar net totdat hy wat hom nog terughou, uit die weg geruim is. 8En dan sal die wettelose mens geopenbaar word, die een vir wie die Here Jesus deur die asem van sy mond sal uitwis – ja, Hy sal hom deur die glans van sy verskyning vernietig. 9 Deur die werking van Satan, sal die koms van die wettelose mens gepaard gaan met volle magsvertoon, met bedrieglike tekens en wonders, 10en met elke vorm van goddelose misleiding vir hulle wat verlore gaan, omdat hulle nie die liefde vir die waarheid aanvaar het om verlos te kan word nie. 11En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, 12en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word.
Oproep tot standvastigheid
13Ons, egter, broers, behoort God altyd vir julle te dank, julle vir wie die Here liefhet, omdat God julle as eerstelinge gekies het om verlos te word, deurdat die Gees julle heilig, en deurdat julle die waarheid glo. 14Hy het julle ook daartoe geroep om deur ons verkondiging van die evangelie die heerlikheid van ons Here Jesus •Christus te verkry.
15Daarom dan, broers, wees standvastig, en hou vas aan die oorlewerings waarin julle onderrig is deur 'n woord of 'n brief van ons af.
16En mag ons Here Jesus Christus self, en God, ons Vader, wat ons liefhet en uit genade aan ons blywende bemoediging en goeie hoop gee, 17julle harte bemoedig, en vir elke goeie daad en woord versterk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan