Handelinge 7:51-60

Handelinge 7:51-60 AFR20

“Julle hardnekkiges met onbesnede harte en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; soos julle vaders gemaak het, so maak julle ook. Wie van die profete is nie deur julle vaders vervolg nie? Ja, hulle het diegene doodgemaak wat die koms van die Regverdige vooraf aangekondig het. Julle het nou sy verraaiers en moordenaars geword. Julle het die wet deur die beskikking van engele ontvang en tog nie onderhou nie!” Toe hulle dit hoor, was hulle woedend in hulle harte en het hulle op hulle tande begin kners oor hom. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het stip na die hemel gekyk en die heerlikheid van God gesien, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. En hy het gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopen en die •Seun van die Mens aan die regterhand van God staan.” Maar hulle het luidkeels geskreeu, hulle ore toegedruk en soos een man op hom afgestorm. Nadat hulle hom uit die stad uitgesleep het, wou hulle hom stenig. Die getuies het hulle boklere neergesit by die voete van 'n jong man bekend as Saulus. En hulle het Stefanus gestenig, terwyl hy uitroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Hy het op sy knieë geval en met 'n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap.