Amos 1

1
Opskrif
1 Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa – woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. Dit was twee jaar voor die aardbewing, in die tyd van Ussia, die koning van Juda, en Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel.
Profetiese uitsprake teen volke
2Hy het gesê:
“Die Here brul uit Sion,
uit Jerusalem laat Hy sy stem hoor.
Die weivelde van die herders verdroog,
die top van Karmel verdor.”
3 So sê die Here:
“Oor drie oortredings van Damaskus,
ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;
omdat hulle Gilead met dorssleë
van yster gedors het.
4 Ek sal vuur slinger
teen die huis van Gasael;
dit sal die vestings van Ben-Hadad
verteer.
5Ek sal die sluitbalk van Damaskus
breek;
Ek sal die een wat op die troon sit,
met geweld uit Bikat-Awen
verwyder,
die septerdraer uit Bet-Eden;
en die volk van Aram sal na Kir
in ballingskap gaan.”
Dit het die Here gesê.
6 So sê die Here:
“Oor drie oortredings van Gasa,
ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;
omdat hulle 'n hele gemeenskap
weggevoer het as ballinge
om hulle aan Edom oor te lewer.
7Ek sal vuur slinger
teen die stadsmuur van Gasa;
dit sal sy vestings verteer.
8Ek sal die een wat op die troon sit,
met geweld uit Asdod verwyder,
die septerdraer uit Askelon.
Ek sal my hand teen Ekron draai,
en dié wat oorgebly het
van die Filistyne sal omkom.”
Dit het my Heer, die Here, gesê.
9 So sê die Here:
“Oor drie oortredings van Tirus,
ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;
omdat hulle 'n hele gemeenskap
as ballinge oorgelewer het
aan Edom,
en nie die verbond tussen broers
in ag geneem het nie.
10Ek sal vuur slinger
teen die stadsmuur van Tirus;
dit sal sy vestings verteer.”
11 So sê die Here:
“Oor drie oortredings van Edom,
ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;
omdat hy sy broer met die swaard
agtervolg het.
Hy het sy meegevoel onderdruk,
en in sy toorn het hy sonder ophou
verskeur;
hy het onverpoos met sy gramskap
volgehou.
12Ek sal vuur slinger teen Teman;
dit sal die vestings in Bosra verteer.”
13 So sê die Here:
“Oor drie oortredings
van die Ammoniete,
ja, oor vier, sal Ek dit nie herroep nie;
omdat hulle swanger vroue
van Gilead oopgekloof het
sodat hulle hulle grondgebied
kon uitbrei.
14Ek steek 'n vuur aan
in die stadsmuur van Rabba;
dit sal sy vestings verteer
te midde van strydkrete
op die dag van oorlog,
in 'n orkaan op die dag
van stormwind.
15Hulle koning sal in ballingskap gaan,
hy en sy •hoë amptenare
saam met hom.”
Dit het die Here gesê.

Tans Gekies:

Amos 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan