Daniël 3:19-30

Daniël 3:19-30 AFR20

Nebukadnesar was toe buite homself van woede en sy gesigsuitdrukking het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het daarop geantwoord deur bevel te gee dat die oond verhit moes word, sewe maal warmer as wat nodig was. Hy het manne, die sterkste manne in sy leër, beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die vlammende vuuroond te gooi. Hierdie manne is toe met hulle klere aan, in hulle mantels, broeke en tulbande, vasgebind en binne-in die vlammende vuuroond gegooi. As gevolg van die streng opdrag van die koning en die oond wat uitermate verhit was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego opgetel het, doodgebrand. Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval. Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.” Daarop gaan Nebukadnesar nader na die opening van die vlammende vuuroond en sê toe: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe kom Sadrag, Mesag en Abednego reg uit die vuuroond. Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs en raadsmanne van die koning het byeengekom en merk toe aan hierdie manne dat die vuur nie mag gehad het oor hulle liggame nie, dat die hare op hulle koppe nie geskroei was nie, dat hulle mantels nie verander het nie, en dat daar geen brandreuk aan hulle was nie. Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê: “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam en hulle liggame op die spel geplaas het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie. 'n Bevel word deur my uitgevaardig dat enige volk, nasie en taal wat iets godslasterliks sê teen die God van Sadrag, Mesag en Abednego, se ledemate afgekap sal word en sy huis in 'n vullishoop omskep sal word. Want daar is nie 'n ander god wat so kan verlos nie.” Daarna het die koning Sadrag, Mesag en Abednego voorspoed laat beleef in die provinsie Babel.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 3:19-30