Dit alles het met koning Nebukadnesar gebeur. Teen die einde van die twaalfde maand was hy besig om rond te stap op die dak van die koninklike paleis in Babel. Die koning het toe begin praat en gesê: “Is dit nie die grote Babel wat ek tot 'n koninklike verblyf opgebou het deur die krag van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?” Die woorde was nog op die lippe van die koning, toe val daar 'n stem uit die hemel: “Aan jou, koning Nebukadnesar, word gesê, ‘Die koningskap het van jou gewyk. Hulle gaan jou uitdryf, weg van mense af, en by die diere van die veld sal jou woning wees. Soos vir beeste sal hulle jou gras voer. Sewe tydperke sal oor jou heen gaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil.’ ”
Die uitspraak is dadelik vervul oor Nebukadnesar, en hy is uitgedryf, weg van mense af. Hy het gras geëet soos beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword, totdat sy hare soos die vere van arende, en sy naels soos die kloue van voëls uitgegroei het.
“ Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer.
“Ek het die Allerhoogste geloof
en die Een wat ewig leef,
besing en geëer –
Hy wie se heerskappy
'n ewige heerskappy is,
en wie se koningskap
van geslag tot geslag duur.
Al die bewoners van die aarde
word as niks gereken;
Hy doen met die hemelse leër
en die bewoners van die aarde
wat Hy wil.
Daar is niemand
wat sy hand kan afweer
of vir Hom kan vra nie,
‘Wat het U gedoen?’
“ In dié tyd het my verstand na my teruggekeer, en wat die waardigheid van my koningskap betref – my majesteit en my luister het na my teruggekeer, en my raadsmanne en edeles het my weer opgesoek. Oor my koninkryk is ek heraangestel, en my grootheid het buitengewoon toegeneem.
“En ek, Nebukadnesar,
besing en verheerlik en eer nou
die Koning van die hemele,
omdat al sy werke waarheid is
en sy paaie reg,
omdat Hy hulle wat met trots rondloop,
kan verneder.”