DANIËL 4:28-37

DANIËL 4:28-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom. Na twaalf maande, terwyl hy op die dak van die paleis geloop het, het hy gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem.” Sy woorde was nog nie koud nie toe kom daar 'n stem uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef gaan word. Jy sal uit die menslike samelewing uitgestoot word en saam met die wilde diere moet leef en gras moet eet soos beeste. Dit sal sewe tydperke lank oor jou kom. Dan sal jy moet erken dat die Allerhoogste mag het oor die koninkryke op aarde en dit gee aan wie Hy wil.” Op dieselfde oomblik het oor Nebukadnesar gekom wat oor hom gesê is. Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van 'n arend en sy naels soos dié van 'n voël. “Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die geslagte heen. Teenoor Hom is al die bewoners van die aarde soos niks; Hy doen soos Hy besluit met die hemelse magte en met die mense op aarde. Daar is niemand wat Hom daarvan kan weerhou en vir Hom kan sê: ‘Wat doen U?’ nie. “Ek het in dié tyd my verstand teruggekry, en my koninklike waardigheid, my eer en majesteit is aan my teruggegee. My raadgewers en hoofamptenare het my opgesoek, my koningskap is herstel en ek het selfs meer mag gekry as tevore. Ek, Nebukadnesar, prys en eer en loof die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is reg, sy optrede is regverdig. Hy het die mag om hoogmoediges te verneder.”

DANIËL 4:28-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit alles het met koning Nebukadnesar gebeur. Teen die einde van die twaalfde maand was hy besig om rond te stap op die dak van die koninklike paleis in Babel. Die koning het toe begin praat en gesê: “Is dit nie die grote Babel wat ek tot 'n koninklike verblyf opgebou het deur die krag van my vermoë en tot verheerliking van my majesteit nie?” Die woorde was nog op die lippe van die koning, toe val daar 'n stem uit die hemel: “Aan jou, koning Nebukadnesar, word gesê, ‘Die koningskap het van jou gewyk. Hulle gaan jou uitdryf, weg van mense af, en by die diere van die veld sal jou woning wees. Soos vir beeste sal hulle jou gras voer. Sewe tydperke sal oor jou heen gaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste magtig is oor 'n menslike koninkryk, en dat Hy dit gee aan wie Hy wil.’ ” Die uitspraak is dadelik vervul oor Nebukadnesar, en hy is uitgedryf, weg van mense af. Hy het gras geëet soos beeste, en van die dou van die hemel het sy liggaam nat geword, totdat sy hare soos die vere van arende, en sy naels soos die kloue van voëls uitgegroei het. “ Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnesar, my oë na die hemel opgeslaan en my verstand het na my teruggekeer. “Ek het die Allerhoogste geloof en die Een wat ewig leef, besing en geëer – Hy wie se heerskappy 'n ewige heerskappy is, en wie se koningskap van geslag tot geslag duur. Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, ‘Wat het U gedoen?’ “ In dié tyd het my verstand na my teruggekeer, en wat die waardigheid van my koningskap betref – my majesteit en my luister het na my teruggekeer, en my raadsmanne en edeles het my weer opgesoek. Oor my koninkryk is ek heraangestel, en my grootheid het buitengewoon toegeneem. “En ek, Nebukadnesar, besing en verheerlik en eer nou die Koning van die hemele, omdat al sy werke waarheid is en sy paaie reg, omdat Hy hulle wat met trots rondloop, kan verneder.”

DANIËL 4:28-37 Bybel vir almal (ABA)

Alles wat Daniël gesê het, het gebeur met koning Nebukadnesar. 'n Jaar later het Nebukadnesar op sy huis se plat dak geloop. Hy het gesê: “Kyk hoe groot is die stad Babel. Dit is 'n stad vir 'n koning. Ek het dit gebou, ek, die groot koning.” Toe die koning dit sê, het hy Iemand gehoor praat uit die hemel. Hy het gesê: “Koning Nebukadnesar, jy sal nie meer koning wees nie. Die mense sal jou wegjaag. Jy sal by die diere gaan bly en jy sal sewe jaar lank gras eet soos 'n bees. Dan sal jy weet dit is die Hoogste God wat besluit wie koning sal wees.” Alles wat Daniël gesê het, het dadelik gebeur met koning Nebukadnesar. Die mense het hom weggejaag. Hy moes gras eet soos 'n bees, en die dou het hom natgemaak. Sy hare het so lank geword soos 'n arend se vere, en sy naels het so lank geword soos 'n voël se naels. Nebukadnesar het geskryf: “Toe die sewe jaar verby was, het ek na die hemel gekyk en gebid. My verstand het teruggekom. Ek het die Hoogste God geprys, Hy wat altyd lewe. Hy sal altyd regeer, Hy sal altyd Koning wees. Die mense op die aarde is nie belangrik nie, hulle is almal soos niks. God doen wat Hy wil met die sterre in die lug en met die mense op die aarde. Niemand kan Hom keer nie, niemand mag vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie. “Toe het my verstand teruggekom. Ek, Nebukadnesar, het weer soos 'n koning gelyk. My raadgewers en my ander belangrike amptenare het na my toe gekom. Hulle het my weer koning gemaak, en ek is nou 'n belangriker koning as wat ek was. Ek, Nebukadnesar, prys die Koning van die hemel, want alles wat Hy doen, is reg. Hy kan hoogmoedige mense verneder.”

DANIËL 4:28-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom. Aan die einde van twaalf maande terwyl hy op die koninklike paleis van Babel rondwandel, het die koning aangehef en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek opgebou het tot 'n koninklike verblyf, deur die sterkte van my vermoë, en tot verheerliking van my majesteit nie? Terwyl die woord nog in die mond van die koning was, val daar 'n stem uit die hemel: Koning Nebukadnésar, jou word aangesê — die koningskap word jou ontneem; en hulle sal jou uit die mensdom verstoot, en jou woning sal saam met die diere van die veld wees; hulle sal jou plante laat eet soos die beeste, en sewe tydperke sal oor jou heengaan, totdat jy erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil. Dieselfde oomblik het die woord in vervulling gegaan oor Nebukadnésar — hy is uit die mensdom verstoot en het plante geëet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak, totdat sy hare lank geword het soos die vere van arende, en sy naels soos dié van voëls. En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy 'n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? In dié tyd het my verstand in my teruggekeer; en wat die eer van my koningskap betref — my majesteit en my glans het in my teruggekeer, en my raadsmanne en my maghebbers het my opgesoek; en ek is in my koningskap herstel, en buitengewone grootheid is my toegevoeg. Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel.

DANIËL 4:28-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit alles het oor koning Nebukadnésar gekom. Aan die einde van twaalf maande het hy in die paleis van die koninkryk van Babel gewandel. Die koning het gespreek en gesê: Is dit nie die groot Babel wat ek gebou het vir die huis van die koninkryk deur die mag van my krag en tot eer van my majesteit nie? Terwyl die woord in die mond van die koning was, het daar 'n stem uit die hemel geval wat gesê het: Koning Nebukadnésar, dit is aan jou gespreek; Die koninkryk het van jou gewyk. En hulle sal jou van die mense verdryf, en jou woning sal by die diere van die veld wees; hulle sal jou gras soos beeste laat eet, en sewe maal sal by jou verbygaan totdat jy weet dat die Allerhoogste regeer in die koninkryk van mense, en gee dit aan wie Hy wil. In dieselfde uur het die saak oor Nebukadnésar gebeur: en hy is van die mense verdryf en het gras soos osse geëet, en sy liggaam was nat van die dou van die hemel, totdat sy hare gegroei het soos arendsvere en sy naels soos voëls ' kloue. En aan die einde van die dae het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgehef, en my verstand het na my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geseën, en ek het Hom geprys en geëer wat vir ewig lewe, wie se heerskappy 'n ewige heerskappy is, en sy heerskappy koninkryk is van geslag tot geslag: En al die bewoners van die aarde word as niks geag nie; en hy doen volgens sy wil in die leër van die hemel en onder die bewoners van die aarde; en niemand kan sy hand terughou of vir hom sê: Wat doen jy? In dieselfde tyd het my verstand na my teruggekeer; en tot eer van my koninkryk het my eer en glans na my teruggekeer; en my raadgewers en my HERE het my gesoek; en ek is bevestig in my koninkryk, en voortreflike majesteit is vir my bygevoeg. En ek, Nebukadnésar, loof en prys en eer die Koning van die hemel, almal wie se werke waarheid is en sy weë oordeel; en Hy kan die wat in trots wandel, verneder.

DANIËL 4:28-37 Die Boodskap (DB)

Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur. Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het, het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.” Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat. Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.” Dit het dadelik gebeur. Nebukadnesar is uit die gemeenskap weggejaag en hy het gras geëet soos ’n bees. Elke nag het die dou hom sopnat gedou. Sy hare het naderhand so lank geword dat dit op sy skouers gehang het en sy naels het soos die kloue van ’n voël gelyk. “Aan die einde van die sewe jaar het ek, Nebukadnesar, na die hemel toe opgekyk. Toe het my verstand weer na my toe teruggekeer. Dadelik het ek die allerhoogste God wat vir altyd lewe, geloof en sy Naam grootgemaak. Ek het gesê: Hy regeer vir ewig. Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie. Die mense op aarde is niks in vergelyking met Hom nie. Hy doen net wat Hy wil met die magte van die hemel en die mense op die aarde. Niemand kan Hom teëstaan of vir Hom vra: ‘Wat doen U?’ nie. “Saam met my verstand het ek ook weer my waardigheid, my eer en my koningskap teruggekry. My raadgewers en my hoofamptenare het my met oop arms terugverwelkom. Hulle het my selfs met meer ontsag behandel as voorheen. “Daarom loof, prys en eer ek, Nebukadnesar, nou die groot Koning van die hemel. Sy optrede is altyd regverdig en alles wat Hy doen, is goed. Hy het die mag om mense te verneder wat te veel van hulleself dink.”

DANIËL 4:28-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Dit het presies net so met die koning gegaan. Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop. Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ’n teken te wees van my grootheid!’ “Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ’n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hierdie boodskap is vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat! Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ’n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbygaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en dit vir enigeen gee soos Hy wil.’ “Die woorde was skaars koud toe dit so gebeur het. Nebukadnesar is van die mense af weggejaag. Hy het gras begin eet soos ’n bees. Die dou het uit die lug op hom geval. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere en sy naels het soos ’n voël se kloue geword. “Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom wat vir altyd lewe, geloof en vereer, want Hy regeer vir altyd en aan sy heerskappy kom daar nooit ’n einde nie. “Almal wat op aarde woon, is niks in vergelyking met Hom nie. Hy maak soos Hy wil met die inwoners van die hemel en dié wat op aarde woon. Niemand kan Hom teëgaan nie. En niemand kan vir Hom sê: ‘Wat doen jy?’ nie. “Toe ek tot my sinne gekom het, is my koningskap, my aansien en my eer ook aan my teruggegee. My raadgewers en amptenare het my kom opsoek en ek is weer in my koningsamp herstel. My aansien het selfs nog meer geword as vantevore. “As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nebukadnesar, die Koning van die hemel. “Alles wat Hy doen, is waar en reg. Almal wat hoogmoedig is, verneder Hy.”