Daniël 9:1-19

Daniël 9:1-19 AFR20

In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die •boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die HERE tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in 'n roukleed en met stof op die kop. Ek het gebid tot die HERE, my God; ek het bely en gesê: “Ag, my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings. En ons het nie geluister na u diensknegte die profete nie, hulle wat in u Naam gepraat het met ons konings, ons •hoë amptenare, ons voorouers en met die hele volk van die land. By U, my Heer, is daar regverdige optrede, en by ons is daar gesigte vol skaamte, soos dit vandag is – by die manne van Juda, by die inwoners van Jerusalem en by die hele Israel, dié wat naby is en dié wat ver is in al die lande waarheen hulle verdryf is op grond van die ontrou wat hulle teen U gepleeg het. HERE, by ons is daar gesigte vol skaamte – by ons konings, ons hoë amptenare en ons voorouers, omdat ons teen U gesondig het; by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis. Omdat ons teen Hom in opstand was en nie geluister het na die stem van die HERE ons God, deur sy wette te volg wat Hy aan ons voorgehou het deur sy diensknegte, die profete nie; en omdat die hele Israel u wet oortree en afgewyk het deur nie te luister na u stem nie, het die vloek en die eed wat geskryf staan in die Wet van Moses, die dienaar van God, teen ons losgebreek. Ja, ons het teen Hom gesondig, en Hy het sy woorde gestand gedoen wat Hy gespreek het oor ons en ons rigters wat ons moes rig, deur 'n groot onheil oor ons te bring – iets wat onder die ganse hemel nog nie gebeur het, soos daar wel in Jerusalem gebeur het nie. Soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, het al hierdie onheil oor ons gekom, maar ons het die guns van die HERE ons God nie gesoek deur van ons sondeskuld weg te draai en ag te slaan op u waarheid nie. Die HERE het met die onheil gereed gestaan, en het dit oor ons gebring. Die HERE ons God is immers regverdig in alles wat Hy doen. Maar ons het nie na sy stem geluister nie. “ En nou, my Heer, ons God, U wat u volk uit Egipteland uitgelei het met 'n sterk hand en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – ons het gesondig, ons is skuldig. My Heer, laat, in ooreenstemming met al u weldade, u toorn en woede asseblief wegdraai van u stad Jerusalem, u heilige berg. Want dit is deur ons sonde en die sondeskuld van ons voorouers dat Jerusalem en u volk 'n bespotting geword het vir almal om ons. Daarom, ons God, luister na die gebed van u dienskneg en na sy smeekbede, en laat, ter wille van my Heer, u aangesig skyn oor u heiligdom, wat verwoes lê. Draai u oor, my God, en hoor! Maak u oë oop en sien ons verwoeste plekke raak en ook die stad waaroor u Naam uitgeroep is! Want nie op grond van ons regverdige dade lê ons ons smeekbede voor u nie, maar op grond van u oorvloedige barmhartigheid. My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 9:1-19