Deuteronomium 11

11
Toewyding aan die Here
1“ Jy moet die Here jou God liefhê en die verpligtinge wat Hy oplê, altyd nakom – sy vaste voorskrifte, sy beslissings en gebooie. 2 Julle moet vandag weet dat dit nie oor julle kinders gaan nie. Hulle ken nie die opvoeding deur die Here julle God en het dit nie ervaar nie: sy grootheid, sy sterk hand en uitgestrekte arm, 3sy tekens van mag en sy dade wat Hy in die hart van Egipte aan die farao, die Egiptiese koning, en sy hele land gedoen het, 4en wat Hy gedoen het aan die Egiptiese leër, aan hulle perde en strydwaens waaroor Hy die water van die Rietsee laat stroom het toe hulle julle agtervolg het, en hoe die Here hulle uitgewis het – dit is vandag nog so – 5 en wat Hy vir julle in die woestyn gedoen het totdat julle op hierdie plek aangekom het; 6 en wat Hy gedoen het aan Datan en Abiram, die seuns van Eliab, die nasaat van Ruben, toe die grond sy mond oopgesper en hulle verswelg het saam met hulle huisgesinne en tente en al die lewende hawe agter hulle aan, in die teenwoordigheid van die hele Israel. 7 Nee, dit was julle oë wat al die groot dade van die Here, alles wat Hy vermag, gesien het. 8 Kom dan die hele gebod na wat ek vandag vir jou voorskryf, sodat julle sterk kan wees en ingaan en die land waarheen julle oortrek, kan verower om dit as erfenis te verkry, 9en sodat julle lank kan leef op die grond wat die Here aan julle voorvaders met 'n eed beloof het om aan hulle en hulle nageslag te gee – 'n land wat oorloop van melk en heuning. 10 Want die land waarheen jy nou op pad is om dit in besit te neem, is nie soos Egipteland waarvandaan julle weggetrek het nie – 'n land waar jy jou saad gesaai en met leivore natgelei het soos 'n groentetuin. 11Die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem, is 'n land met berge en valleie; dit drink reënwater uit die hemel. 12Dit is 'n land waarvoor die Here jou God bly sorg. Die Here jou God hou voortdurend sy oog daaroor – van die begin tot die einde van die jaar.
13“ As julle goed luister na my gebooie wat ek vandag vir julle voorskryf, naamlik om die Here julle God lief te hê en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese, 14 dan sê die Here, ‘Ek sal die reën van julle land op tyd gee, die vroeë en die laatreëns, sodat jy jou koring en jou •nuwe wyn en olie kan insamel. 15En Ek sal vir jou diere weiding in jou veld gee en jy sal eet en versadig raak.’
16“ Wees versigtig dat julle harte nie verlei word en julle wegdraai en ander gode dien en in aanbidding voor hulle buig nie. 17Die toorn van die Here sal teen julle ontbrand en Hy sal die hemel sluit sodat daar nie reën is en die grond nie sy opbrengs lewer nie en julle vinnig verdwyn uit die goeie land wat die Here aan julle gaan gee.
18“ Koester hierdie woorde van my met hart en siel. Bind dit as 'n teken om julle hande en laat dit versierings op julle voorkoppe wees. 19Leer dit vir julle kinders deur daaroor te praat wanneer jy in jou huis sit en op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 20Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte, 21sodat julle en julle kinders baie jare lank kan leef op die grond wat die Here met 'n eed aan julle voorvaders beloof het om aan hulle te gee, so baie as wat die jare van die hemelruim bo die aarde is.
22“ Ja, as julle hierdie hele gebod wat ek vir julle voorskryf, sorgvuldig nakom deur dit uit te voer, die Here julle God lief te hê, al sy paaie te volg en aan Hom vas te hou, 23dan sal die Here al hierdie nasies voor julle uitdryf. Julle sal nasies wat groter en magtiger is as julle, verdryf. 24Elke plek waar julle voetsole trap – aan julle sal dit behoort. Van die woestyn af tot by die Libanon en van die rivier af, die Eufraatrivier, tot by die see in die weste sal julle grondgebied wees. 25Niemand sal voor julle standhou nie. Die Here julle God sal, soos Hy julle beloof het, op elke plek in die land wat julle betree, vrees en angs vir julle laat posvat.
26“ Kyk, ek hou vandag seën en vloek aan julle voor: 27die seën wanneer julle luister na die gebooie van die Here julle God wat ek vandag vir julle voorskryf, 28en die vloek as julle nie luister na die gebooie van die Here julle God nie, maar afwyk van die pad wat ek julle vandag beveel, deur agter ander gode wat julle nie geken het nie, aan te loop.
29“ Wanneer die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, moet jy die seën plaas op die berg Gerisim en die vloek op die berg Ebal. 30 Lê hulle nie oorkant die Jordaan, anderkant die pad in die weste, in die land van die Kanaäniete wat in die Araba woon, teenoor Gilgal by die akkerbome van Morê nie? 31Omdat julle oor die Jordaan trek om die land wat die Here julle God vir julle gaan gee, te verower, en omdat julle dit in besit sal neem en daarin sal woon, 32moet julle al die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag aan julle voorhou, nougeset nakom.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan