Deuteronomium 14

14
Rein en onrein
1“ Julle is kinders van die Here julle God. Julle mag nie julleself stukkend sny of 'n kaal plek op julle voorkoppe maak ter wille van 'n afgestorwene nie; 2want jy is vir die Here jou God 'n heilige volk, en jou het die Here uitgekies om as volk sy persoonlike eiendom te wees onder al die volke op aarde.
3 “Jy mag nie enigiets afstootliks eet nie. 4Dit is die diere wat julle mag eet: beeste, skape en bokke; 5rooitakbokke, gaselle, hartbeeste, klipbokke, waterbokke, witgemsbokke en bergskape. 6Enige dier wat volledig gesplete hoewe het en wat ook herkou, dié mag julle eet. 7Maar die volgende onder die diere wat herkou of gesplete hoewe het, mag julle egter nie eet nie: die kameel, die haas en die dassie; want hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. Hulle is beslis •onrein vir julle. 8En ook nie die vark nie; want hy het gesplete hoewe, maar herkou nie. Hy is onrein vir julle. Van hulle vleis mag julle glad nie eet nie en aan hulle karkasse mag julle nie raak nie. Hulle is beslis vir julle onrein.
9“Dit is wat julle mag eet van alles wat in die water is: Alles wat vinne en skubbe het, mag julle eet; 10maar enigiets wat nie vinne en skubbe het nie, mag julle nie eet nie. Dit is onrein vir julle.
11“Julle mag enige rein voël eet; 12maar dit is die voëls wat julle nie mag eet nie:
“gewone arende, breëkop-arende;
swartaasvoëls;
13edelvalke, valke en alle soorte jakkalsvoëls;
14alle soorte kraaie;
15steenuile, ooruile;
seemeeue;
alle soorte kleinvalkies, 16naguiltjies,
grasuile, nonnetjiesuile;
17bontkraaie;
Egiptiese aasvoëls en visarende,
18ooievaars en alle soorte reiers;
hoep-hoepe en vlermuise.
19“Alle vlieënde insekte is onrein vir julle; dit mag nie geëet word nie. 20Alle rein vlieënde voëls mag julle wel eet.
21“Julle mag geen karkas eet nie. Vir •vreemdelinge in jou dorpe kan jy dit gee, hulle mag dit eet; of jy kan dit verkoop aan buitelanders. Jy is immers 'n heilige volk vir die Here jou God.
“Jy mag nie 'n bokkie kook in sy ma se melk nie.”
Tiendes
22“ Jy moet jaar ná jaar presies een tiende van die volle opbrengs saad wat jou saailande oplewer, eenkant hou. 23Jy moet 'n tiende van jou koring, •nuwe wyn en olie, sowel as die eersgeborenes van jou beeste en kleinvee, in die teenwoordigheid van die Here jou God eet op die plek wat Hy sal kies om sy Naam daar te vestig, sodat jy kan leer om altyd ontsag te hê vir die Here jou God.
24“ Maar as die afstand vir jou te groot is, as jy dit nie kan dra nie, omdat die Here jou God jou geseën het en omdat die plek wat die Here jou God gaan kies om sy Naam daar te vestig, te ver van jou af is, 25moet jy dit in silwer omsit en met die silwer toegebind in 'n sak, na die plek gaan wat die Here jou God sal kies. 26Betaal dan met die silwer vir alles wat jou hart begeer, vir beeste en kleinvee, vir wyn en sterk drank, ja vir alles waarvoor jy lus het, en eet dit daar voor die Here jou God, en wees bly, jy en jou huisgesin.
27“Die Leviete wat in jou dorpe is – jy mag hulle nie vergeet nie; want hulle het geen aandeel of erfenis saam met jou nie. 28 Aan die einde van drie jaar moet jy van daardie jaar se opbrengs die volle tiende bring en dit in die dorpspoorte neersit. 29Omdat die Leviete geen aandeel of erfenis saam met jou het nie, kan hulle sowel as die vreemdelinge, die vaderloses en weduwees in jou dorpe, dan kom en eet en versadig raak, sodat die Here jou God jou kan seën in alles wat jy aanpak.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan