Deuteronomium 34

34
Moses se dood
1 Moses het uit die vlaktes van Moab teen die berg Nebo uitgeklim, na die kruin van Pisga wat teenoor Jerigo lê. Die Here het hom die hele land, van Gilead tot by Dan, gewys, 2ook die hele Naftali, die streek van Efraim en Manasse, die hele streek van Juda tot by die see in die weste, 3sowel as die Negev en die omstreke van die vallei van Jerigo, die Palmstad, tot by Soar. 4Die Here het vir hom gesê: “Dit is die land wat Ek met 'n eed beloof het aan Abraham, Isak en Jakob toe Ek gesê het, ‘Aan jou nageslag sal Ek dit gee.’ Ek het jou dit met jou eie oë laat sien, maar daarheen sal jy nie oorgaan nie.”
5 Toe het Moses, die dienskneg van die Here, daar in die land Moab op bevel van die Here gesterf. 6Hy het Moses in die land Moab in die vallei teenoor Bet-Peor begrawe, en tot vandag toe weet geen mens waar sy graf is nie.
7Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het. Sy oë het nie verswak en sy kragte nie afgeneem nie. 8Die Israeliete het in die vlaktes van Moab dertig dae lank oor Moses getreur – tot die routyd oor Moses verby was.
9 Josua, die seun van Nun, was vervul met 'n gees van wysheid, omdat Moses sy hande op hom gelê het. Die Israeliete het na hom geluister, soos die Here Moses beveel het.
10 Daar het nie weer 'n profeet soos Moses in Israel opgestaan nie. Die Here het hom van aangesig tot aangesig geken, 11sodat hy al die tekens van mag en wonders waarvoor die Here hom gestuur het, kon doen in Egipteland aan die farao, aan al sy dienaars en die hele land – 12ja, die hele magsvertoon en al die groot, skrikwekkende dade wat Moses voor die oë van die hele Israel gedoen het.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan