Deuteronomium 5

5
1 Moses het die hele Israel byeengeroep en vir hulle gesê: “Israel, luister na die vaste voorskrifte en beslissings wat ek vandag afkondig, sodat julle dit kan hoor. Julle moet dit leer en dit nougeset nakom. 2Die Here ons God het met ons 'n verbond gesluit by Horeb. 3Dit is nie met ons voorouers wat die Here hierdie verbond gesluit het nie, maar met ons – ons hier wat vandag nog almal leef.
4“ Op die berg het die Here uit die vuur van aangesig tot aangesig met julle gepraat. 5Ek moes in daardie tyd tussen die Here en julle gaan staan om die woorde van die Here aan julle bekend te maak, want julle het bang geword vir die vuur en wou nie teen die berg opgaan nie.
“Die Here het gesê,
6“ ‘ Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die plek van slawerny, uitgelei het.
7 Jy mag naas My nie ander gode hê nie.
8 Jy mag nie vir jou 'n gesnede beeld van 'n god maak nie – enige afbeelding van wat in die hemelruim daar bo of op die aarde hier onder of in die water onder die aarde is nie. 9 Jy mag nie voor hulle in aanbidding buig nie, en jy mag hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is 'n besitlike God wat kinders laat boet vir die sondeskuld van ouers, selfs die derde en vierde geslag van hulle wat My verwerp, 10maar troue liefde bewys aan duisende, aan hulle wat My liefhet en my gebooie nakom.
11 Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal hulle wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat nie.
12 Hou die Sabbatdag heilig soos die Here jou God jou beveel het: 13Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, 14 maar die sewende dag is 'n Sabbat ter ere van die Here jou God. Jy mag geen werk doen nie, nie jy en jou seun en jou dogter, jou slaaf en jou slavin, jou bees en jou donkie of enige van jou diere nie, ook nie jou •vreemdeling wat by jou is nie, sodat jou slaaf en jou slavin kan rus soos jy. 15 Jy moet onthou dat jy ook 'n slaaf was in Egipteland en dat die Here jou God met 'n sterk hand en uitgestrekte arm jou daar uitgelei het. Daarom het die Here jou God jou beveel om die Sabbatdag te vier.
16 Behandel jou vader en jou moeder met eerbied soos die Here jou God jou beveel het, sodat jy lank kan leef, en sodat dit met jou goed kan gaan op die grond wat die Here jou God vir jou gaan gee.
17 Jy mag nie moord pleeg nie.
18 Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
19 Jy mag nie steel nie.
20 Jy mag nie vals getuig teen jou naaste nie.
21 Jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, ook nie sy saaigrond, sy slaaf en sy slavin, sy bees en sy donkie, of enigiets wat aan jou naaste behoort nie.’
22“ Hierdie woorde het die Here met 'n harde stem uit die vuur, wolke en diepe duisternis op die berg vir julle hele geloofsgemeenskap gesê. Hy het niks bygevoeg nie, dit op twee kliptafels gegraveer en dit vir my gegee.
23“ Die oomblik toe julle die stem uit die donkerte gehoor het, terwyl die berg aan die brand was, het julle, al julle stamhoofde en julle oudstes nader gekom na my toe 24en gesê, ‘Kyk, die Here ons God het ons sy majesteit en grootheid laat sien en ons het selfs sy stem uit die vuur gehoor. Vandag het ons dit ervaar dat God met 'n mens praat en dat hy bly leef. 25Waarom moet ons dan nou sterf? Want hierdie groot vuur gaan ons verteer! As ons langer moet luister na die stem van die Here ons God, gaan ons sterf. 26Trouens, is daar enige mens wat al soos ons die stem van die lewende God gehoor het terwyl Hy uit die vuur praat, en bly leef het? 27Gaan jy nader en luister na alles wat die Here ons God sê, dan kan jy weer vir ons alles sê wat die Here ons God vir jou gesê het. Ons sal luister en dit doen.’
28“Die Here het duidelik gehoor wat julle sê toe julle met my gepraat het. Die Here het vir my gesê, ‘Ek het die woorde wat hierdie volk vir jou gesê het, duidelik gehoor. Alles wat hulle gesê het, is goed. 29 Was hulle gesindheid maar so dat hulle ontsag vir My gehad en al my gebooie al die jare nagekom het, sodat dit altyd met hulle en hulle kinders goed kan gaan! 30Gaan sê vir hulle: “Gaan terug na julle tente toe.” 31 Maar jy, kom staan hier by My, sodat Ek die volledige gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat jy vir hulle moet leer, aan jou kan voorhou. Hulle moet dit uitleef in die land wat Ek vir hulle gaan gee om in besit te neem.’
32 “Daarom moet julle dit nougeset nakom, soos wat die Here julle God julle beveel het. Julle mag nie na links of regs afwyk nie. 33Julle moet die hele pad volg, soos die Here julle God julle beveel het, sodat julle kan leef en dit met julle goed kan gaan – ja, sodat julle lank kan leef in die land wat julle in besit gaan neem.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan