Prediker 5

5
1Moenie gou wees met jou mond
en laat jou hart nie haastig wees
om 'n woord voor God te uiter nie.
Want God is in die hemel
en jy is op die aarde;
daarom moet jou woorde
min wees.
2Ja, 'n droom kom deur baie sorge
en 'n dwase gepraat deur baie woorde.
3 Wanneer jy 'n gelofte
teenoor God aflê,
moet jy nie uitstel
om dit na te kom nie,
want Hy hou nie van dwase nie.
Wat jy ook al beloof – betaal dit!
4 Dit is beter dat jy nie beloof nie
as dat jy beloof en nie betaal nie.
5Moenie jou mond toelaat
om jou liggaam te laat sondig nie.
Moenie voor die boodskapper
van God sê dat dit
'n onopsetlike fout was nie.
Waarom moet God vertoornd word
oor jou woorde
en jou handewerk vernietig?
6Want waar baie drome
en onsinnighede is,
is daar meer woorde.
Ja, vrees God!
7As jy die afpersing van armes
en die verdraaiing
van reg en geregtigheid sien
in 'n provinsie,
moet jy jou nie oor die saak
verbaas nie,
want hooggeplaastes hou 'n oog
oor hooggeplaastes,
en hoëres weer oor hulle.
8 Maar die voordeel vir 'n land,
te midde van dit alles,
is 'n koning wat sorg
dat lande bewerk word.
Gedig oor die waardeloosheid van rykdom
9Wie geld liefhet,
kry nie genoeg van geld nie,
en wie aan rykdom geheg is,
van inkomste nie.
Ook dit is sinloos.
10 Wanneer iemand
se voorspoed toeneem,
word dié wat dit verbruik meer.
Wat is die wins vir die besitter
daarvan behalwe
dat sy oë dit aanskou?
11Die arbeider se slaap is soet,
of hy min of baie eet;
maar die oormaat van die ryke
gun hom geen rus nie,
sodat hy nie kan slaap nie.
12 Daar is 'n siek euwel
wat ek gesien het onder die son:
rykdom wat deur die besitter
bewaar is tot sy eie nadeel.
13Hierdie rykdom het verlore
gegaan deur swak besigheid.
Hy het 'n seun verwek,
maar dié sit sonder iets
in sy hand.
14Soos wat hy naak uit die skoot
van sy moeder gekom het,
sal hy weer heengaan
soos hy gekom het.
Hy sal niks saamneem
vir sy inspanning nie,
niks wat hy met sy hand
kan dra nie.
15Ja, dit is ook 'n siek euwel:
Net soos hy gekom het,
so gaan hy heen.
Watter voordeel is daar vir hom
dat hy hom vir wind afsloof?
16Selfs al eet hy sy lewe lank
in die donker;
hy vermeerder net verdriet,
sy siekte en die grimmigheid.
17Kyk, wat ek gesien het,
wat goed en mooi is,
is om te eet en te drink
en te geniet wat goed is
by al die inspanning
waarmee iemand hom afsloof
onder die son
gedurende die min lewensdae
wat God vir hom gee,
want dit is sy beloning;
18boonop, dit geld vir elke mens
aan wie God rykdom
en besittings gee
en vir wie Hy die geleentheid gee
om daarvan te geniet,
om dit as sy beloning te ontvang
en vrolik te wees by sy inspanning.
Dit is 'n gawe van God.
19Want hy dink nie baie
aan sy lewensdae nie:
God laat hom besig bly
met wat sy hart verbly.

Tans Gekies:

Prediker 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan