Eksodus 17

17
Water uit die rots
1 Die hele volksvergadering van die Israeliete het op bevel van die Here, volgens hulle trekgroepe, weggetrek uit die Sinwoestyn. Hulle het by Refidim kamp opgeslaan, maar daar was nie vir die volk water om te drink nie. 2Die volk het Moses verwyt; hulle het gesê: “Gee vir ons water sodat ons kan drink!” Moses het hulle geantwoord: “Waarom verwyt julle my? Waarom daag julle die Here uit? ”
3 Maar die volk het daar gesmag na water, en die volk het teen Moses gemor en gesê: “Waarvoor het jy ons uit Egipte laat optrek? Om ons en ons kinders en ons vee van dors te laat sterf?” 4Moses het na die Here om hulp geroep en gesê: “Wat moet ek maak met hierdie volk? Hulle is op die punt om my te stenig. ” 5 Die Here sê toe vir Moses: “Gaan voor die volk uit, en neem van die oudstes van Israel met jou saam. Die staf waarmee jy die Nyl geslaan het, moet jy in jou hand neem. Gaan dan! 6Kyk, Ek sal daar voor jou staan op die rots by Horeb. Jy moet op die rots slaan, dan sal daar water uitkom, en die volk sal drink.”
Moses het dit toe gedoen ten aanskoue van die oudstes van Israel. 7Hy het die plek Massa en Meriba genoem, na aanleiding van die Israeliete se verwyte, en omdat hulle die Here uitgedaag het deur te sê: “Is die Here in ons midde of nie?”
Oorwinning oor die Amalekiete
8 Toe die Amalekiete kom om teen Israel te veg by Refidim, 9het Moses vir Josua gesê: “Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Amalek. Môre sal ek op die heuweltop gaan staan met die staf van God in my hand. ” 10Josua het toe, soos Moses vir hom gesê het, gereedgemaak om teen Amalek te veg; en Moses, Aäron en Hur het opgeklim na die heuweltop.
11Wanneer Moses sy hand omhoog hou, het Israel die oorhand gekry; maar wanneer hy sy hand laat rus, het Amalek die oorhand gekry. 12Toe Moses se hande swaar word, het hulle 'n klip geneem en onder hom neergesit. Hy het daarop gaan sit. Aäron en Hur het, een aan elke kant, sy hande gestut. Sy hande het bestendig omhoog gebly totdat die son ondergegaan het. 13Josua het Amalek en sy volk oorwin met die skerpte van die swaard.
14Die Here het vir Moses gesê: “Skryf dit in 'n •boekrol neer as 'n blywende herinnering, en stel dit duidelik aan Josua, dat Ek beslis die naam Amalek onder die hemel gaan uitwis. ”
15Moses het 'n altaar gebou en dit genoem, Die Here is my banier. 16Hy het gesê:
“Omdat 'n hand teen die troon
van die Here was,
is daar oorlog vir die Here teen
Amalek van geslag tot geslag.”

Tans Gekies:

Eksodus 17: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan