Eksodus 21:19-36

Eksodus 21:19-36 AFR20

sal die een wat geslaan het, vry wees as die man opstaan en met sy kierie buite rondloop. Hy moet hom net vergoed vir die tyd wat hy sonder verdienste was. Hy moet toesien dat hy ten volle herstel. Wanneer iemand sy slaaf of slavin met 'n stok só slaan dat hy onder sy hand sterf, moet dit beslis gewreek word. Maar as hy 'n dag of twee oorleef, moet dit nie gewreek word nie, want die slaaf is met sy geld gekoop. Wanneer mans baklei en hulle beseer 'n swanger vrou, sodat haar kind te vroeg gebore word, maar daar nie 'n ernstige besering is nie, moet die een wat haar beseer het, beslis die boete betaal wat die vrou se eggenoot hom oplê. Hy moet dit vasstel met die hulp van beregters. Maar as daar 'n ernstige besering is, moet jy bepaal: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet, 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond, 'n kneusplek vir 'n kneusplek. Wanneer iemand die oog van sy slaaf of slavin raakslaan en hy sy oog verloor, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die oog. As iemand die tand van sy slaaf of slavin uitslaan, moet hy die persoon as 'n vrygelate wegstuur as vergoeding vir die tand. “Wanneer 'n bees 'n man of 'n vrou stoot, sodat die persoon sterf, moet die bees beslis gestenig word. Sy vleis mag nie geëet word nie, maar die eienaar van die bees is onskuldig. As die bees egter voorheen al stoterig was, en sy eienaar gewaarsku is, maar hy dit nie opgepas het nie, en die bees maak dan 'n man of vrou dood, moet die bees gestenig word, en ook sy eienaar moet sterf. As hy 'n losprys opgelê word, moet hy die afkoopprys vir sy lewe gee, soveel as wat hom opgelê word. Ook wanneer die bees 'n seun of 'n dogter stoot, moet daar ooreenkomstig hierdie bepaling teenoor die eienaar opgetree word. As dit 'n slaaf of slavin is wat deur die bees gedood is, moet daar dertig sikkel silwer vir hulle eienaar gegee word, en die bees moet gestenig word. Wanneer iemand 'n opgaarput oop laat, of iemand 'n opgaarput uitkap en dit nie bedek nie, en 'n bees of 'n donkie val daarin, moet die eienaar van die opgaarput vergoeding betaal. Hy moet vir die eienaar geld gee, en die dooie dier sal dan aan hom behoort. Wanneer iemand se bees sy medemens se bees stoot, en hy vrek, moet hulle die bees wat nog leef, verkoop en die geld deel. Ook die dooie bees moet hulle deel. Maar as dit bekend is dat die bees voorheen al bakleierig was, en sy eienaar hom nie opgepas het nie, moet hy beslis 'n bees gee as vergoeding vir die bees. Die dooie dier sal dan aan hom behoort.