“ Wanneer iemand 'n bees of 'n skaap steel en dit slag of verkoop, moet hy daarvoor vergoed met vyf stuks grootvee vir 'n bees, en met vier stuks kleinvee vir 'n skaap.
As 'n dief tydens 'n inbraak betrap word en só geslaan word dat hy sterf, is daar geen bloedskuld nie. As dit egter ná sonop gebeur, rus daar bloedskuld op die een wat hom geslaan het. 'n Dief moet volle vergoeding betaal. As hy niks besit nie, moet hy vir sy diefstal verkoop word. As gesteelde goed wel lewendig in sy besit gevind word, moet hy dubbeld daarvoor vergoed, of dit nou 'n bees of 'n donkie of 'n skaap is.
Wanneer iemand 'n veld of 'n wingerd laat bewei, en hy sy vee loslaat sodat hulle in iemand anders se veld wei, moet hy daarvoor vergoed, met die beste van sy veld of met die beste uit sy wingerd. As 'n brand uitbreek, dit na die dorings versprei, en stapels gerwe, of ongeoeste graan, of die land, afbrand, moet die een wat die brand begin het, ten volle daarvoor vergoed.
Wanneer iemand vir sy medemens silwer of goedere gee om te bewaar, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief dubbeld daarvoor vergoed as hy betrap word. As die dief nie betrap word nie, moet die eienaar van die huis voor God nader gebring word om vas te stel of hy nie sy hande op sy medemens se besittings gelê het nie.
In enige geval van misdaad wat verband hou met 'n bees, 'n donkie, 'n skaap, klere of enige verlore eiendom waarvan iemand sê, ‘Dit is myne!’ moet die twee se saak voor God gebring word. Die een vir wie God skuldig verklaar, moet sy medemens dubbeld daarvoor vergoed. Wanneer iemand vir sy medemens 'n donkie, 'n bees, 'n skaap of enige ander dier gee om op te pas, en dit vrek, of word beseer, of dit word weggevoer sonder dat iemand dit sien, moet 'n eed voor die HERE tussen die twee beslis. As die persoon nie sy hande op sy medemens se besitting gelê het nie, moet die eienaar dit aanvaar en hoef die ander persoon niks daarvoor te vergoed nie. Maar as dit wel van hom gesteel is, moet die persoon die eienaar vergoed. As die dier verskeur is, moet hy dit as bewys bring. Dan hoef hy nie vergoeding te betaal vir die verskeurde dier nie.
Wanneer iemand 'n dier by sy medemens leen en die dier word beseer of vrek terwyl die eienaar nie teenwoordig is nie, moet hy die volle vergoeding daarvoor betaal. As die eienaar wel teenwoordig was, hoef hy nie vergoeding daarvoor te betaal nie. As dit 'n gehuurde dier was, dek die huurgeld die verlies.