Eksodus 23

23
1“ Jy mag nie valse gerugte versprei nie. Moenie saamspan met 'n skuldige deur 'n kwaadwillige getuie te wees nie. 2Jy mag nie die meerderheid volg in verkeerde dade nie. Jy mag nie in 'n saak getuig en die reg verdraai deur jou by die meerderheid te skaar nie. 3 'n Arm persoon mag jy nie in sy regsaak bevoordeel nie.
4 Wanneer jy afkom op jou vyand se bees of donkie wat ronddwaal, moet jy dit beslis na hom terugneem. 5Wanneer jy iemand wat jou haat se donkie onder sy vrag sien lê, mag jy dit nie aan hom oorlaat nie. Jy moet hom beslis daarmee help.
6 Jy mag die reg van die behoeftiges by jou nie verdraai in hulle regsake nie. 7Van vals beskuldigings moet jy wegbly. Die onskuldige en regverdige moet jy nie om die lewe bring nie, want Ek sal 'n skuldige nie regverdig verklaar nie. 8 Omkoopgeskenke mag jy nie aanvaar nie, want 'n omkoopgeskenk verblind hulle wat kan sien en verdraai die woorde van regverdiges.
9 'n •Vreemdeling mag jy nie verdruk nie. Julle weet self hoe dit voel om 'n vreemdeling te wees, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
10“ Ses jaar lank mag jy jou lande saai en die opbrengs daarvan insamel; 11maar die sewende jaar moet jy dit onbewerk en braak laat lê, sodat die behoeftiges onder jou volk kan eet, en wat hulle laat oorbly, kan die wilde diere eet. Jy moet dieselfde doen met jou wingerde en jou olyfboorde.
12 Ses dae lank moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy ophou werk, sodat jou beeste en jou donkies kan rus, en jou slavinne se seuns en die vreemdelinge kan asemskep.
13Alles wat Ek vir julle gesê het, moet julle nakom. Die name van ander gode mag julle nie aanroep nie; dit mag nie uit julle monde gehoor word nie.
14 Drie keer per jaar moet julle tot my eer 'n fees vier. 15Die Fees van die Ongesuurde Brood moet jy onderhou. Soos Ek jou beveel het, moet jy op die vasgestelde tyd in die maand Abib sewe dae lank ongesuurde brood eet; want in daardie maand het jy uit Egipte weggetrek. Niemand mag met leë hande voor My verskyn nie. 16Onderhou ook die Fees van die Oes met die eerste vrugte van jou arbeid, met dit wat jy in die land gesaai het. Onderhou ook die Fees van die Insameling aan die einde van die jaar wanneer jy die vrug van jou arbeid op die lande insamel. 17Drie keer per jaar moet al die manlike persone by jou voor die Heer, die Here, verskyn.
18 Jy mag die bloed van my slagoffers nie offer saam met iets wat suurdeeg bevat nie. Die vet van die •feesoffer aan My mag nie tot die oggend oorstaan nie.
19 Die keur van die eerste vrugte van jou grond moet jy na die huis van die Here jou God bring.
Jy mag nie 'n boklam in sy ma se melk kook nie.”
God se belofte van bystand aan Israel
20“Kyk, Ek gaan 'n •engel voor jou uit stuur om jou op die pad te beskerm en jou te bring na die plek wat Ek gereedgemaak het. 21 Wees versigtig, omdat hy teenwoordig is, en luister na sy stem. Moenie teen hom opstandig wees nie, want hy sal julle oortreding nie vergewe nie; hy tree immers in my Naam op. 22 Maar as jy aandagtig luister na sy stem en alles doen wat Ek sê, sal Ek vyandig optree teenoor jou vyande en jou aanvallers aanval.
23“ Wanneer my engel voor jou uit gaan en jou neem na die •Amoriete, die Hetiete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hewiete en die Jebusiete, sal Ek hulle uitwis. 24Jy mag nie voor hulle gode in aanbidding buig nie en jy mag hulle nie dien nie. Jy mag hulle dade nie nadoen nie, maar jy moet hulle godebeelde heeltemal vernietig en hulle gedenkstene in stukke breek. 25Julle moet die Here julle God dien. Hy sal jou voedsel en water seën. Ek sal siektes uit jou midde verwyder. 26Geen vrou sal in jou land 'n miskraam hê of onvrugbaar wees nie. Ek sal jou 'n lang lewe gee.
27“Die vrees vir My sal Ek voor jou uit stuur en Ek sal elke volk by wie jy kom, in verwarring bring. Ek sal sorg dat al jou vyande die hakskene vir jou wys. 28 Ek sal 'n vlaag paniek voor jou uit stuur, en dit sal die Hewiete, die Kanaäniete en die Hetiete voor jou uit verdryf.
29“ Ek sal hulle egter nie in een jaar voor jou uit verdryf nie, anders word die land 'n woesteny en die wilde diere te veel vir jou. 30Ek sal hulle stuk vir stuk voor jou uit verdryf, totdat jy so vrugbaar is dat jy die land as erfdeel kan ontvang. 31 Ek sal jou grense vasstel vanaf die Rietsee tot by die See van die Filistyne, en vanaf die woestyn tot by die Rivier, want Ek sal die inwoners van die land in julle hand gee, en jy sal hulle voor jou uit verdryf.
32“ Jy mag nie met hulle of hulle gode 'n verbond sluit nie. 33 Hulle mag in jou land nie woon nie, anders laat hulle jou teen My sondig. Want jy sal hulle gode dien; ja, dit sal vir jou 'n valstrik word.”

Tans Gekies:

Eksodus 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan