Eksodus 29

29
Priesterwyding
1 “Dit is wat jy met hulle moet doen om hulle te heilig, sodat hulle vir My as priesters kan optree: Neem een jong bul en twee ramme sonder gebrek, 2en ongesuurde brood en ongesuurde ringbrode wat met olyfolie gemeng is, asook ongesuurde platbrode wat met olyfolie gesmeer is. Van gesifte koringmeel moet jy dit bak. 3Jy moet dit in een mandjie sit en dit in die mandjie naderbring, saam met die bul en die twee ramme. 4 Aäron en sy seuns moet jy na die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat nader kom en hulle met water afspoel. 5 Jy moet die klere neem en vir Aäron die priesterrok, die mantel van die efod, die efod en die borstas aantrek, en dan vir hom die efod styf vasmaak met die band. 6Jy moet die tulband op sy kop sit en die heilige wydingsteken op die tulband vassit. 7 Jy moet die salfolie neem, dit oor sy kop uitgiet en hom salf. 8Dan moet jy sy seuns laat nader kom, hulle priesterrokke vir hulle aantrek 9en die lyfserpe vir hulle, Aäron en sy seuns, ombind. Jy moet hulle kopdoeke vir hulle vasbind. Die priesterdiens sal hulle s'n wees as 'n vaste voorskrif wat altyd geld. So moet jy Aäron en sy seuns wy.
10“Jy moet die bul tot voor die Tent van Ontmoeting bring. Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop plaas, 11en dan moet jy die bul voor die Here slag by die ingang van die Tent van Ontmoeting. 12 Jy moet van die bul se bloed neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar smeer. Die res van die bloed moet jy teen die basis van die altaar uitgooi. 13 Jy moet al die vet wat die binnegoed bedek, neem, ook die lewerlob en die twee niere met die vet daaraan, en dit op die altaar verbrand. 14 Maar die vleis van die bul, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp verbrand. Dit is 'n •reinigingsoffer. 15 Die een ram moet jy neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. 16Dan moet jy die ram slag, sy bloed neem en dit reg rondom teen die altaar sprinkel. 17Die ram moet jy in stukke opsny, sy binnegoed en pote afspoel, en dit by die stukke en sy kop neersit. 18Jy moet die hele ram op die altaar verbrand. Dit is 'n •brandoffer vir die Here. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 19 Jy moet die tweede ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. 20 Dan moet jy die ram slag, van sy bloed neem en dit aan Aäron se regteroorlel smeer, ook aan dié van sy seuns, aan die duime van hulle regterhande en aan die groottone van hulle regtervoete. Jy moet die res van die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. 21 Jy moet van die bloed wat teen die altaar is, neem, en ook van die salfolie, en dit op Aäron en sy klere sprinkel, en ook op sy seuns by hom en op sy seuns se klere. Hy en sy klere en saam met hom sy seuns en hulle klere sal dan heilig wees.
22“ Jy moet uit die ram die vet neem, die vetstert, die vet wat die binnegoed bedek, die lewerlob, die twee niere en die vet wat daaraan is, en ook die regterboud – want dit is die ram vir die priesterwyding – 23 asook een ronde brood, een ongesuurde brood wat met olyfolie klam gemaak is, en een platbrood uit die mandjie met ongesuurde brood wat voor die Here is. 24Jy moet dit alles op die handpalms van Aäron en die handpalms van sy seuns plaas, en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. 25 Dan moet jy dit van hulle hande neem en op die altaar verbrand bo-op die brandoffer as 'n geurige offer voor die Here. Dit is 'n offergawe aan die Here.
26“Jy moet die borsstuk uit die ram vir die priesterwyding van Aäron neem, en dit voor die Here as 'n gewyde gawe heen en weer beweeg. Dit is dan jou deel.
27“ Jy moet dit wat Aäron en sy seuns uit die ram vir die priesterwyding toekom, heilig verklaar: die borsstuk van die gewyde gawe wat heen en weer beweeg is, en die boud van die •wydingsgeskenk wat aangebied is. 28Dit kom Aäron en sy seuns toe as 'n deel wat hulle altyd moet kry van die kant van die Israeliete, want dit is 'n wydingsgeskenk. Dit moet 'n wydingsgeskenk wees van die kant van die Israeliete uit hulle •maaltydoffers, hulle wydingsgeskenk aan die Here.
29“ Die heilige klere wat aan Aäron behoort, moet aan sy seuns ná hom gaan, om daarin gesalf te word en daarin gewy te word. 30 Die een onder sy seuns wat priester word in sy plek en wat die Tent van Ontmoeting binnegaan om in die heiligdom dienswerk te doen, moet die klere sewe dae lank dra.
31“ Die ram vir die priesterwyding moet jy neem en sy vleis in 'n heilige plek kook. 32Aäron en sy seuns moet by die ingang van die Tent van Ontmoeting die vleis van die ram eet, en ook die brood wat in die mandjie oor is. 33Hulle moet dit eet waarmee versoening gedoen is om hulle te wy en te heilig; 'n buitestander mag egter nie daarvan eet nie, omdat dit heilig is. 34 As daar van die vleis vir die priesterwyding, of van die brood, tot die oggend oorstaan, moet jy die oorskiet verbrand. Dit mag nie geëet word nie, want dit is heilig.
35“ Jy moet met Aäron en sy seuns so maak, net soos Ek jou beveel het. Jy moet sewe dae neem om hulle te wy. 36'n Bul moet jy elke dag as reinigingsoffer bring vir versoening. Jy moet die altaar reinig wanneer jy daarvoor versoening doen, en dit salf om dit te heilig. 37Sewe dae lank moet jy versoening doen vir die altaar en dit heilig. Die altaar sal besonder heilig wees; elkeen wat aan die altaar raak, sal heilig word. 38 Dit is wat jy gereeld, elke dag, op die altaar moet offer: twee jaaroud ramlammers. 39Die een lam moet jy in die oggend offer en die tweede lam teen laatmiddag, 40met 'n tiende van 'n efa gesifte meel, gemeng met 'n kwart hin geparste olyfolie, en 'n kwart hin wyn as •drankoffer vir die eerste lam. 41Die tweede ramlam moet jy teen laatmiddag offer. Soos die •graanoffer in die oggend en die bypassende drankoffer, moet jy dit bring as 'n geurige offer, 'n offergawe aan die Here. 42Dit moet 'n gereelde •brandoffer wees vir julle nageslagte by die ingang van die Tent van Ontmoeting, daar voor die Here, waar Ek julle sal ontmoet om met jou te praat. 43Ek sal die Israeliete daar ontmoet, en die plek sal geheilig word deur my heerlike teenwoordigheid. 44Ek sal die Tent van Ontmoeting en die altaar heilig. Aäron en sy seuns sal Ek heilig om vir My as priesters op te tree. 45 Ek sal onder die Israeliete vertoef en vir hulle 'n God wees. 46 Hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is, wat hulle uit Egipteland gelei het om onder hulle te vertoef. Ek is die Here hulle God.”

Tans Gekies:

Eksodus 29: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan