Eksodus 7

7
1 Die Here het egter vir Moses gesê: “Kyk, Ek maak jou 'n god vir die farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. 2Jy moet alles sê wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met die farao praat, dat hy die Israeliete uit sy land laat gaan. 3 Maar Ek sal die farao se hart verhard en my tekens en wondertekens in Egipteland vermeerder. 4Die farao sal nie na julle luister nie, en Ek sal my hand met geweldige oordele op Egipte lê en my leërafdelings, my volk, die Israeliete, uit Egipteland lei. 5Die Egiptenare sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my hand oor Egipte uitstrek en die Israeliete uit hulle midde lei.”
6Moses en Aäron het toe so gemaak – soos die Here hulle beveel het, het hulle gemaak. 7Moses was tagtig en Aäron was drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met die farao gaan praat het. 8 Die Here het vir Moses en Aäron gesê: 9“As die farao met julle praat en sê, ‘Doen julle 'n teken!’ dan moet jy vir Aäron sê, ‘Neem jou staf en gooi dit voor die farao neer, dan sal dit 'n slang word.’ ”
10Moses en Aäron het toe na die farao gegaan en gemaak soos die Here beveel het. Aäron het sy staf voor die farao en voor sy amptenare neergegooi, en dit het 'n slang geword. 11Die farao roep toe op sy beurt die wyse manne en towenaars, en ook hulle, die Egiptiese waarsêerpriesters, het dieselfde gedoen met hulle towerkuns. 12Elkeen van hulle het sy staf neergegooi en dit het slange geword, maar Aäron se staf het hulle stawwe ingesluk.
13 Die farao se hart was egter verhard en hy het nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het.
Eerste plaag
14 Die Here het vir Moses gesê: “Die farao se hart is onversetlik, hy weier om die volk te laat gaan. 15Gaan in die oggend na die farao. Kyk, hy gaan uit na die water. Wag vir hom aan die kant van die Nyl. Die staf wat in 'n slang verander het, moet jy in jou hand neem. 16Sê vir die farao, ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het my na u gestuur om te sê: “Laat my volk gaan, sodat hulle My in die woestyn kan dien.” Kyk, tot nou toe het u nie geluister nie. 17 So sê die Here: “Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is.” Kyk, ek gaan met die staf wat in my hand is op die water in die Nyl slaan, en dit sal in bloed verander; 18 en die visse in die Nyl sal vrek, en die Nyl sal stink, sodat die Egiptenare nie meer water uit die Nyl kan drink nie.’ ”
19 Verder het die Here vir Moses gesê: “Sê vir Aäron, ‘Neem jou staf en strek jou hand uit oor die waters van Egipte, oor hulle riviere, hulle kanale, hulle vleilande en oor al hulle opgaarplekke vir water – dan sal dit bloed word. Daar sal bloed wees in die hele Egipteland, selfs in die hout- en klipbakke.’ ”
20 Moses en Aäron het toe so gemaak, net soos die Here beveel het. Aäron het die staf opgelig en die water in die Nyl geslaan voor die oë van die farao en sy amptenare; en al die water in die Nyl het in bloed verander. 21Die visse in die Nyl het gevrek, en die Nyl het so gestink dat die Egiptenare die water uit die Nyl nie kon drink nie. Daar was bloed in die hele Egipteland.
22Maar die Egiptiese waarsêerpriesters het dieselfde gedoen met hulle towerkuns. Die farao se hart het verhard en hy het nie na hulle geluister nie, soos die Here gesê het. 23Die farao het net omgedraai en sy paleis binnegegaan. Selfs dit het hy nie ter harte geneem nie. 24Maar al die Egiptenare het al langs die Nyl gegrawe vir water om te drink, want hulle kon die water van die Nyl nie drink nie.
25'n Volle sewe dae het verbygegaan nadat die Here die Nyl getref het.

Tans Gekies:

Eksodus 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan