Esegiël 36

36
Terugkeer van Israel
1“ En jy, mensekind, profeteer teen die berge van Israel en sê, ‘Berge van Israel, hoor die woord van die Here! 2So sê my Heer, die Here: “Omdat die vyand oor julle gesê het, ‘Aha!’ en ‘Die eeue-oue offerhoogtes – dit het ons eiendom geword!’ ” ’ 3daarom, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat, ja, omdat hulle julle aan alle kante verwoes en geteister het, sodat julle die eiendom van die res van die nasies, die onderwerp van skinderstories in alle tale en van lasterpraatjies onder alle volke geword het,” 4daarom, berge van Israel, luister na die woord van my Heer, die Here! So sê my Heer, die Here vir die berge, die heuwels, die stroombeddings, die valleie, die verwoeste puinhope en die verlate stede wat 'n buit en 'n voorwerp van spot geword het vir die res van die nasies aan alle kante – 5ja, so sê my Heer, die Here: “Met die vuur van my heilige jaloesie praat Ek teen die res van die nasies en teen die hele Edom, wat met 'n hart vol vreugde en met 'n •siel vol veragting my land vir hulle as eiendom toegeëien het, sodat sy weivelde 'n buit kon wees.” ’
6“Daarom, profeteer oor die grondgebied van Israel en sê vir die berge, die heuwels, die stroombeddings en valleie, ‘So sê my Heer, die Here: “Kyk, in my heilige jaloesie en in my woede praat Ek, omdat julle die vernedering deur nasies moet verduur.” 7Daarom, so sê my Heer, die Here: “Ek self het my hand opgehef en gesweer: Wat die nasies rondom julle betref – hulle sal beslis hulle vernedering moet dra; 8maar julle, berge van Israel, julle sal lote gee en julle sal vrugte dra vir my volk Israel, want hulle koms is naby. 9Ja, kyk, Ek is by julle, berge. Ek sal My na julle draai, en julle sal bewerk en beplant word. 10 Ek sal mense op julle talryk maak – dit sal die hele huis van Israel wees, hulle almal. Die dorpe sal bewoon word, en die puinhope sal herbou word. 11 Ek sal mense en vee op julle, berge van Israel, talryk maak; hulle sal vermeerder en vrugbaar wees. Ek sal sorg dat julle bewoon word soos in julle vroeëre tye, en aan julle goed doen, meer as aan die begin. Dan sal julle besef dat ek die Here is. 12Ek sal mense, my volk Israel, op julle laat loop, en hulle sal julle in besit neem, en julle sal hulle erfenis wees. Julle sal hulle nie weer kinderloos maak nie.”
13“ ‘So sê my Heer, die Here: “Omdat hulle vir julle sê, ‘Land, jy verslind mense, en jy het jou nasie telkens kinderloos gemaak’, 14daarom, mense sal jy nie weer verslind nie en jou nasie sal jy nie weer kinderloos maak nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
15“ ‘ “Ek sal jou nie weer die vernedering deur die nasies laat hoor nie; en die bespotting deur volke sal jy nie meer verduur nie. Jou nasie sal jy nie weer laat struikel nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.’ ”
16Die woord van die Here het tot my gekom: 17“ Mensekind, terwyl die huis van Israel op hulle grond gewoon het, het hulle dit verontreinig met hulle optrede en hulle dade. Soos onreinheid tydens menstruasie, was hulle optrede voor My. 18 Ek het my woede oor hulle uitgestort oor die bloed wat hulle in die land gestort het en oor die afgodsbeelde waarmee hulle dit besoedel het. 19Ek het hulle onder die nasies versprei, hulle in die lande verstrooi. In ooreenstemming met hulle optrede en hulle dade het Ek hulle geoordeel. 20 Toe hulle aankom by die nasies waarheen hulle gegaan het, het hulle my heilige Naam ontheilig, deurdat daar van hulle gesê is, ‘Dit is die Here se volk hierdie, maar uit sy land moes hulle padgee.’ 21Ek was begaan oor my heilige Naam, wat die huis van Israel so ontheilig het onder die nasies waarheen hulle gegaan het.
22“Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die Here: “Nie ter wille van julle doen Ek dit nie, huis van Israel, maar slegs ter wille van my heilige Naam, wat julle ontheilig het onder die nasies waarheen julle gegaan het. 23 Ek sal my groot Naam heilig, wat onder die nasies ontheilig is, wat julle onder hulle ontheilig het. Die nasies sal besef dat Ek die Here is,” is die uitspraak van my Heer, die Here, “wanneer Ek Myself deur julle as die Heilige betoon voor hulle oë. 24 Ek sal julle uit die nasies neem, en julle bymekaarmaak uit al die lande. Ek sal julle na julle grond bring. 25 Ek sal rein water oor julle sprinkel, en julle sal rein wees. Van al julle onreinhede en van al julle afgodsbeelde sal Ek julle reinig. 26 Ek sal vir julle 'n nuwe hart gee, 'n nuwe gees sal Ek in julle binneste gee; Ek sal die hart van klip uit julle liggame verwyder en vir julle 'n hart van vlees gee. 27 My Gees sal Ek in julle binneste gee. Ek sal daarvoor sorg dat julle my vaste voorskrifte volg en dat julle my bepalings nakom en uitvoer. 28Julle sal in die land woon wat Ek aan julle voorouers gegee het. Julle sal vir My 'n volk wees, en Ek sal vir julle 'n God wees. 29Ek sal julle verlos van al julle onreinheid. Ek sal na die koring roep en dit oorvloedig maak; Ek sal nie weer hongersnood oor julle bring nie. 30Ek sal die vrugte van die bome en die opbrengs van die landerye oorvloedig maak, sodat julle nie meer die bespotting oor hongersnood deur die nasies hoef te verduur nie. 31 Julle sal terugdink aan julle bose optrede, aan julle dade wat nie goed was nie. Dan sal julle walg van julleself oor julle sondeskuld, oor julle afstootlike dade. 32 Nie ter wille van julle doen Ek dit nie,” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Dit moet vir julle duidelik wees! Wees verleë en skaam julle oor julle optrede, huis van Israel!”
33“ ‘So sê my Heer, die Here: “Die dag wanneer Ek julle reinig van al julle sondeskuld, sal Ek die stede weer laat bewoon; die puinhope sal opgebou word. 34Die land wat verlate was, sal bewerk word, in plaas daarvan dat dit 'n woesteny is ten aanskoue van elke verbyganger. 35 Hulle sal sê, ‘Hierdie land wat verlate gelê het, het soos die tuin van Eden geword. Die stede wat puinhope was, verlate en platgeslaan, is versterk en word bewoon.’ 36Die nasies wat rondom julle oorgebly het, sal besef dat dit Ek, die Here, is wat die platgeslane stede opgebou, die verlate land beplant het. Ek, die Here, het gepraat, en Ek sal dit doen.”
37“ ‘So sê my Heer, die Here: “Ook nog dit sal Ek die huis van Israel toelaat om van My te vra dat Ek dit vir hulle doen: Ek sal hulle vermeerder; soos kleinvee sal die mense wees. 38Soos gewyde kleinvee, soos die kleinvee by Jerusalem in feestye, so sal die stede wees wat in puin lê – vol kuddes van mense. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.” ’ ”

Tans Gekies:

Esegiël 36: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan