Esegiël 4

4
Profesie oor Jerusalem
1“ En jy, mensekind, vat vir jou 'n gebakte kleitablet, sit dit voor jou neer en krap 'n stad daarop uit – Jerusalem. 2 Plaas haar dan onder beleg: Rig beleëringswerke teen haar op, hoop 'n beleëringswal teen haar op, stel leërafdelings teen haar op en plaas stormramme reg rondom haar. 3En jy, vat vir jou 'n bakplaat van yster en maak dit 'n ystermuur tussen jou en die stad. Kyk stip na haar. Sy sal onder beleg wees; jy sal haar beleër. Dit moet 'n teken wees vir die huis van Israel.
4“En jy, gaan lê op jou linkersy, en plaas so die sondeskuld van die huis van Israel op jou sy. Soveel dae as wat jy op jou sy lê, soveel dae sal jy hulle sondeskuld dra. 5 En Ek, Ek het vir jou die aantal jare van hulle sondeskuld 'n getal dae gemaak – driehonderd-en-negentig dae lank moet jy die sondeskuld van die huis van Israel dra. 6As jy daarmee klaar is, moet jy 'n tweede keer gaan lê – op jou regtersy. Dan moet jy die sondeskuld van die huis van Juda dra, veertig dae lank. 'n Dag vir elke jaar is wat Ek dit vir jou maak.
7“Jy moet stip kyk na die beleëring van Jerusalem, en met 'n ontblote arm moet jy teen haar profeteer. 8 Kyk, Ek sit toue om jou, sodat jy nie van die een sy op die ander kan draai totdat jy die tyd van jou beleëring voltooi het nie.
9“En jy, neem vir jou koring, gars, boontjies, lensies, sorghum en spelt, sit dit saam in een houer en maak daarvan vir jou kos. So lank as wat jy op jou sy lê – driehonderd-en-negentig dae – moet jy dit eet. 10Die kos wat jy gaan eet, moet twintig sikkel per dag weeg. Op vaste tye moet jy daarvan eet. 11Ook water moet jy volgens maat drink – een sesde van 'n hin. Op vaste tye moet jy dit drink. 12Soos roosterkoeke van gars moet jy die kos eet. Op menslike uitwerpsel moet jy dit voor hulle oë bak.” 13 Die Here het gesê: “So sal die Israeliete hulle kos •onrein moet eet onder die nasies waarheen Ek hulle gaan verdryf.”
14 Toe sê ek: “Ag, my Heer, Here! Kyk, ek is self nooit verontreinig nie. Iets wat doodgegaan het of verskeur is, het ek van my jeug af tot nou toe nie geëet nie. Walglike vleis het nooit in my mond gekom nie. ” 15Hy het my geantwoord: “Goed, Ek laat jou dan toe om beesmis in plaas van menslike uitwerpsel te gebruik; jy kan jou kos daarop voorberei.”
16 Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, kyk, Ek gaan die broodstok breek in Jerusalem. Hulle sal met kommer afgeweegde brood eet; en met ontsteltenis afgemete water drink, 17gevolglik sal hulle gebrek ly aan brood en water. Hulle sal mekaar geskok aankyk en wegteer weens hulle sondeskuld.

Tans Gekies:

Esegiël 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan