Esegiël 9

9
1Hy het hard in my ore geroep: “Kom nader, julle wat die stad gaan straf, elkeen met sy wapen van verwoesting in sy hand.” 2 Toe kom daar meteens ses manne uit die rigting van die boonste poort wat noord front, elkeen met sy wapen van vernietiging in sy hand. Tussen hulle was daar 'n man geklee in linne, met 'n skrywersak aan sy heup. Hulle kom toe en gaan staan langs die bronsaltaar. 3 Die heerlikheid van die God van Israel het opgestyg van die gerub waarop dit was, en na die drumpel van die •tempel gegaan. Die Here roep toe na die man wat in linne geklee was, met die skrywersak aan sy heup, 4 en sê vir hom: “Deurkruis die stad, deurkruis Jerusalem, en maak 'n kruisie op die voorkoppe van die mense wat sug en kla oor al die afskuwelikhede wat daarin gedoen word.”
5Vir die ander mans het Hy, waar ek dit hoor, gesê: “Deurkruis die stad agter hom aan en slaan dood. Julle moet nie 'n traan stort of deernis hê nie. 6 Ou mans, jong mans, maagde, kleuters en vroue moet julle om die lewe bring en sodoende uitroei. Maar aan enigeen op wie daar 'n kruisie is, mag julle nie raak nie. By my heiligdom moet julle begin.”
Hulle het begin by die ou mans wat voor die tempel was. 7Hy sê toe vir hulle: “Verontreinig die •tempel, maak die voorhowe vol gesneuweldes – gaan nou!” Hulle het uitgegaan en in die stad mense doodgeslaan. 8Terwyl hulle so besig was om dood te slaan, het ek alleen oorgebly. Ek het neergeval met my gesig teen die grond, om hulp geroep en gesê: “Ag, Here, my Heer, gaan U almal wat oorgebly het van Israel uitroei terwyl U so u woede oor Jerusalem uitstort?”
9Toe sê Hy vir my: “Die sondeskuld van die huis van Israel en Juda is uitermate groot. Die land is gevul met bloedskuld, die stad is vol van die verdraaiing van die wet. Want hulle sê, ‘Die Here het die land verlaat; die Here sien dit nie.’ 10 Ek sal daarom ook nie 'n traan stort nie; Ek sal nie deernis hê nie. Hulle optrede sal Ek op hulle koppe laat neerkom.”
11 Juis toe doen die man geklee in linne, met die skrywersak aan sy heup, verslag: “Ek het presies gedoen wat U my beveel het.”

Tans Gekies:

Esegiël 9: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan