Esra 10

10
Belydenis voor die Here
1 Terwyl Esra bid en belydenis doen, huil en homself neerwerp voor die huis van God, het daar uit Israel 'n baie groot menigte, mans, vroue en kinders, om hom versamel; want die mense het self ook bitterlik gehuil. 2 Seganja, die seun van Jegiël, uit die nageslag van Elam, het begin praat en vir Esra gesê: “Ons was ontrou teenoor ons God toe ons vreemde vroue van die naburige volke getrou het. Maar tog is daar hoop vir Israel in hierdie saak. 3 Laat ons dan nou 'n verbond met ons God sluit om al die vroue en diegene wat uit hulle gebore is, weg te stuur, soos u, meneer, en ook die manne wat ontsag het vir ons God se gebod, ons aanraai. Daar moet volgens die wet opgetree word. 4 Staan op, want die saak is in u hande. Ons is saam met u. Wees onwrikbaar en doen dit.” 5 Esra het toe opgestaan en die leiers van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle hiervolgens sal optree. Hulle het toe ook so gesweer.
6 Nadat Esra opgestaan het voor die huis van God, het hy na die vertrek van Joganan, seun van Eljasib, gegaan. Hy het daarheen gegaan, maar glad nie brood geëet of enige water gedrink nie, omdat hy oor die ballinge se ontrouheid gerou het.
7Hulle het toe 'n boodskap dwarsdeur Juda en Jerusalem aan al die ballinge gestuur om in Jerusalem bymekaar te kom. 8 Elkeen wat nie binne drie dae sou opdaag soos die leiers en oudstes besluit het nie, se eiendom sou onder die ban wees en hyself sou uitgesluit word uit die gemeenskap van die ballinge. 9 Al die manne van Juda en Benjamin het toe binne drie dae in Jerusalem bymekaargekom. Dit was in die negende maand, op die twintigste dag van die maand. Die hele volk het op die plein van die huis van God gesit en bewe van spanning hieroor, en ook as gevolg van die reënbuie. 10 Esra, die priester, het opgestaan en vir hulle gesê: “Julle was ontrou toe julle met vreemde vroue getrou het. Dit het daartoe bygedra om die skuld van Israel te vergroot! 11 Daarom, doen nou belydenis voor die Here, die God van julle voorgeslagte. Doen sy wil en skei julle af van die naburige volke en doen afstand van die vreemde vroue.”
12Toe het die hele gemeenskap hardop geantwoord: “Ja! Ons is verplig om te doen wat u sê! 13Maar hier is baie mense en dit is reëntyd. Ons het nie krag om buite te staan nie. Dit is nie 'n dag of twee se werk nie, want ons het baie oortree in hierdie saak. 14 Laat ons leiers asseblief namens die hele gemeenskap optree. Dan kan almal in ons dorpe wat met vreemde vroue getrou het, op vasgestelde tye saam met die oudstes en regters van elke dorp kom, sodat die brandende toorn van ons God oor hierdie saak van ons afgewend word.”
15Net Jonatan, seun van Asael, en Jagseja, seun van Tikwa, het dit teengestaan, en Mesullam en Sabbetai, die Leviet, het hulle ondersteun. 16Die ballinge het toe so gemaak. Vir die taak is Esra, die priester, afgesonder, asook manne wat familiehoofde was, almal by die naam, om namens hulle families op te tree. Op die eerste dag van die tiende maand het hulle gaan sit om die ondersoek te begin, 17en teen die eerste dag van die eerste maand het hulle die saak van al die manne wat met vreemde vroue getroud was, afgehandel.
Priesters en Leviete met vreemde vroue
18 Daar is gevind dat daar van die afstammelinge van priesters was wat met vreemde vroue getrou het:
Uit die nageslag van Jesua, seun van Josadak, en sy familie, was dit
Maäseja, Eliëser, Jarib en Gedalja
19 (hulle het plegtig beloof dat hulle hulle vroue sou wegstuur en dat hulle 'n ram uit die kleinvee as 'n skuldoffer sou bring);
20 uit die nageslag van Immer was dit
Ganani en Sebadja;
21 uit die nageslag van Garim was dit
Maäseja, Elia, Semaja, Jegiël en Usija;
22 uit die nageslag van Pasgur was dit
Eljoënai, Maäseja, Ismael, Netanel, Josabad en Elasa.
23 Daar was ook van die Leviete, naamlik
Josabad, Simeï, Kelaja (dit is Kelita), Petagja, Juda en Eliëser.
24 Van die sangers was daar
Eljasib.
Van die hekwagte was daar
Sallum, Telem en Uri.
25 Daar was ook van die Israeliete:
Uit die nageslag van Paros was dit
Ramja, Jissija, Malkija, Mijamin, Eleasar, Malkija en Benaja;
26uit die nageslag van Elam was dit
Mattanja, Sagaria, Jegiël, Abdi, Jeremot en Elia;
27uit die nageslag van Sattu was dit
Eljoënai, Eljasib, Mattanja, Jeremot, Sabad en Asisa;
28uit die nageslag van Bebai was dit
Joganan, Gananja, Sabbai en Atlai;
29uit die nageslag van Bani was dit
Mesullam, Mallug en Adaja, Jasub, Seal en Jeremot;
30uit die nageslag van Pagat-Moab was dit
Adna, Kelal, Benaja, Maäseja, Mattanja, Besaleël, Binnuï en Manasse;
31 uit die nageslag van Garim was dit
Eliëser, Jissija, Malkija, Semaja, Simeon, 32Benjamin, Mallug en Semarja;
33uit die nageslag van Gasum was dit
Mattenai, Mattatta, Sabad, Elifelet, Jeremai, Manasse en Simeï;
34 uit die nageslag van Bani was dit
Maädai, Amram, Uel, 35Benaja, Bedja, Keluhi, 36Wanja, Meremot, Eljasib, 37Mattanja, Mattenai, Jaäsai, 38Bani, Binnuï, Simi, 39Selemja, Natan, Adaja, 40Magnadbai, Sasai, Sarai, 41Asarel, Selemja, Semarja, 42Sallum, Amarja en Josef;
43 uit die nageslag van Nebo was dit
Jeïel, Mattitja, Sabad, Sebina, Jaddai, Joël en Benaja.
44 Al hierdie mans het met vreemde vroue getrou, en daar was van hulle wat by die vroue kinders gehad het.

Tans Gekies:

Esra 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan