Esra 5

5
Hervatting van die bou van die tempel
1 Toe het die profete Haggai en Sagaria, kleinseun van Iddo, teen die Judeërs in Juda en Jerusalem begin profeteer in die naam van die God van Israel onder wie se gesag hulle gestaan het. 2 Serubbabel, seun van Sealtiël, en Jesua, seun van Josadak, het gereedgemaak en die bouwerk aan die huis van die God van Jerusalem hervat. Hulle is daarin ondersteun deur die profete van God.
3 In daardie tyd het Tattenai, •streekgoewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en hulle ampsgenote na hulle gekom en vir hulle gevra: “Wie het julle opdrag gegee om hierdie huis te herbou en hierdie struktuur te voltooi?” 4Hulle het ook gevra: “Wat is die name van die manne wat hierdie gebou oprig?”
5 Maar hulle God het 'n oog gehou oor die oudstes van die Judeërs en daardie manne kon dit nie regkry dat hulle ophou bou voordat die verslag Darius bereik en hulle die beslissing hieroor ontvang het nie.
Brief aan koning Darius
6 Hier volg die afskrif van die brief wat Tattenai, streekgoewerneur van Wes-Eufraat, asook Setar-Bosnai en sy ampsgenote, die amptenare van Wes-Eufraat, aan koning Darius gestuur het. 7Hulle het soos volg geskryf in die brief wat hulle aan hom gestuur het:
“Aan koning Darius:
Alle vrede!
8“ Ons stel graag die koning in kennis dat ons na die provinsie Juda gegaan het, na die huis van die groot God. Dit word met groot klippe gebou en balke word in die mure gelê. Die werk word sorgvuldig gedoen en vorder goed onder hulle hande. 9Ons het daardie oudstes toe uitgevra, en dit is wat ons vir hulle gesê het, ‘Wie het julle opdrag gegee om hierdie huis te herbou en hierdie struktuur te voltooi?’ 10Ons het hulle ook hulle name gevra sodat ons die name van die manne wat aan die hoof staan vir u ter inligting kon neerskryf.
11“ Hulle het ons soos volg geantwoord,
‘Ons is die dienaars van die God van hemel en aarde en ons herbou die huis wat baie jare voor hierdie een gebou is. 'n Groot koning van Israel het dit gebou en voltooi. 12 Maar omdat ons voorouers die God van die hemel kwaad gemaak het, het Hy hulle in die hand van Nebukadnesar, die koning van Babilonië, die Galdeër, oorgelewer. Hy het hierdie huis afgebreek en die volk na Babilonië weggevoer. 13 Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babilonië, het koning Kores opdrag gegee dat hierdie huis van God herbou moet word. 14 Ook die voorwerpe van goud en silwer van die huis van God wat Nebukadnesar uit die tempel wat in Jerusalem was, weggeneem het en na die tempel in Babel geneem het, het koning Kores verwyder uit die tempel in Babel. Dit is oorhandig aan 'n persoon met die naam Sesbassar wat hy as streekgoewerneur aangestel het. 15 Hy het ook vir hom gesê: “Neem hierdie voorwerpe en gaan sit dit terug in die tempel in Jerusalem en laat die huis van God op sy plek herbou word.” 16 Toe het daardie Sesbassar gekom en die fondament van die huis van die God van Jerusalem gelê. Dit is van toe af tot nou in aanbou en is nog nie voltooi nie.
17 “ ‘Daarom, as die koning dit goedvind, laat daar ondersoek ingestel word in die koninklike skatkamers daar in Babel of dit so is dat koning Kores opdrag gegee het vir die herbou van hierdie huis van God in Jerusalem. Die koning moet dan sy beslissing hieroor vir ons stuur.’ ”

Tans Gekies:

Esra 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan