Galasiërs 1

1
1Paulus, 'n •apostel – nie op gesag van mense of deur 'n mens nie, maar wel deur Jesus •Christus en God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het – 2en al die broers saam met my,
aan die •gemeentes van Galasië:
3 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus,
4Hy wat Homself gegee het vir ons sondes,
om ons te red uit die huidige bose bedeling,
volgens die wil van ons God en Vader,
5aan wie die heerlikheid behoort
vir ewig en ewig! •Amen.
Waarskuwing teen 'n ander evangelie
6Ek is verbaas dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van •Christus geroep het, wegdraai na 'n ander evangelie. 7Daar is nie 'n ander evangelie nie – al is daar sommige mense wat julle probeer verwar, en die evangelie van Christus wil verdraai. 8Maar selfs al sou ons, of 'n engel uit die hemel, 'n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees! 9Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou weer: As iemand aan julle 'n evangelie verkondig wat in stryd is met wat julle ontvang het, laat hom vervloek wees! 10Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer 'n dienskneg van Christus wees nie!
Oorsprong van Paulus se evangelie
11Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie 'n menslike saak is nie; 12want ek het dit nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur 'n openbaring van Jesus •Christus.
13Julle het immers gehoor hoe ek vroeër volgens die Joodse godsdiens geleef het, dat ek die •kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer vernietig het, 14en dat ek in die uitlewing van die Joodse godsdiens baie van my tydgenote in my volk oortref het, deurdat ek my soveel meer beywer het vir die tradisies van my voorvaders. 15Toe God dit egter goedgevind het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af en my deur sy genade geroep het – 16om sy Seun aan my te openbaar, sodat ek Hom aan die heidene sou verkondig, het ek nie dadelik vlees en bloed geraadpleeg nie. 17Ook het ek nie na Jerusalem opgegaan na hulle wat vóór my •apostels was nie, maar ek het wel na Arabië gegaan, en toe weer na Damaskus teruggekeer.
18 Eers later, ná drie jaar, het ek na Jerusalem opgegaan om Sefas te ontmoet, en ek het vyftien dae by hom gebly; 19maar van die apostels het ek niemand anders gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here. 20 Wat ek vir julle skryf, kyk, dit sê ek voor God – ek lieg nie! 21Later het ek na die streke van Sirië en Silisië gegaan, 22maar ek was persoonlik onbekend by die Christelike •gemeentes in Judea. 23Al wat hulle steeds bly hoor het, was: “Hy wat ons voorheen vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër probeer vernietig het!” 24En hulle het God oor my verheerlik.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan