In die begin het God die hemel en die aarde geskep. Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. Maar die Gees van God het oor die water gesweef,
en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
God het gesien dat die lig goed was.
God het toe die lig en die donker
van mekaar geskei.
God het die lig dag genoem
en die donker het Hy nag genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
dag een.
God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. God het die gewelf hemel genoem.
En dit was aand en dit was oggend –
'n tweede dag.
God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is.
God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.
En dit was aand en dit was oggend –
'n derde dag.
God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur.
God het die twee groot ligte gemaak,
die groot lig om te heers oor die dag,
en die klein lig om te heers oor die nag,
en ook die sterre.
God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is.
En dit was aand en dit was oggend –
'n vierde dag.
God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.”
En dit was aand en dit was oggend –
'n vyfde dag.
God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur.
God het die wilde diere van die aarde
gemaak volgens elkeen se aard,
die mak diere volgens elkeen se aard,
en al die diere wat op die grond kruip
volgens elkeen se aard.
God het gesien dat dit goed is.