Genesis 16

16
Geboorte van Ismael
1 Sarai, Abram se vrou, het nie vir hom kinders in die wêreld gebring nie. Maar sy het 'n Egiptiese slavin gehad; haar naam was Hagar. 2Sarai sê toe vir Abram: “Kyk, die Here weerhou my daarvan om kinders te kry. Gaan maar na my slavin; miskien kan ek deur haar 'n familie opbou. ” Abram het ingestem tot Sarai se voorstel. 3 Sarai, Abram se vrou, het toe haar Egiptiese slavin, Hagar, geneem en haar aan haar man Abram as vrou gegee. Dit was nadat Abram al tien jaar lank in die land Kanaän gewoon het. 4Hy het by Hagar ingegaan en sy het swanger geword. Toe sy egter sien dat sy swanger is, was haar meesteres minderwaardig in haar oë. 5 Sarai sê toe vir Abram: “Die onreg wat ek moet verduur, rus op jou. Ek self het my slavin in jou skoot gegee, maar toe sy sien dat sy swanger is, het ek minderwaardig geword in haar oë. Mag die Here oordeel tussen my en jou.” 6Abram het Sarai geantwoord: “Kyk, jou slavin is in jou hand. Maak met haar soos dit goed is in jou oë.” Daarna het Sarai haar mishandel, en sy het van haar af weggevlug.
7Die •Engel van die Here het haar by 'n waterbron in die woestyn, by die fontein op die pad na Sur, aangetref. 8Hy het vir haar gesê: “Hagar, slavin van Sarai, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?” Sy het geantwoord: “Ek is aan die vlug, weg van my meesteres Sarai af.” 9Toe sê die Engel van die Here vir haar: “Gaan terug na jou meesteres en onderwerp jou aan haar gesag.” 10 Die Engel van die Here het vir haar gesê: “Ek sal jou nageslag besonder baie maak, sodat hulle vanweë hulle getalle nie getel kan word nie.” 11 Die Engel van die Here het ook vir haar gesê:
“Kyk, jy is swanger
en sal aan 'n seun geboorte gee.
Jy moet hom Ismael noem,
want die Here het van jou mishandeling gehoor.
12 En hy sal 'n wildedonkie van 'n mens wees:
sy hand teen almal,
en almal se hand teen hom!
In onvrede met al sy broers
sal hy woon.”
13 Hagar het toe die Naam aangeroep van die Here wat met haar gepraat het: “U is die God wat my sien”. Want sy het gesê: “Het ek Hom wat my sien, ook hier gesien?” 14 Daarom word die put Beër-Lagai-Roï genoem. Dit lê daar tussen Kades en Bered.
15 Hagar het vir Abram 'n seun in die wêreld gebring, en Abram het sy seun wat Hagar in die wêreld gebring het, Ismael genoem. 16Abram was ses-en-tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram in die wêreld gebring het.

Tans Gekies:

Genesis 16: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan